Update
OUDTSHOORN NUUS - AfriForum het vanjaar 127 vullisterreine in die nege provinsies geoudit as deel van hul nasionale projek om die gehalte van stortingsterreine in Suid-Afrika te meet.
Met slegs 38% is Oudtshoorn s'n onder die drie swakstes. Volgens 'n verklaring wat dié week deur Deon de Jager, distrikskoördineerder van AfriForum in die Boland, uitgereik is, het slegs vier uit nege stortingsterreine wat in die Wes-Kaap geoudit is, het aan nasionale standaarde voldoen.
Volgens die verklaring het die oudit uit 'n lys van 33 vrae bestaan wat die minimum vereistes vir stortingsterreine in Suid-Afrika meet en sluit faktore soos toegangsbeheer, brande, mediese afval, omheining en rehabilitasie in.
'n Vullisterrein moet minstens 80% behaal om aan wetgewing te voldoen.
"Meeste vullisterreine is in 'n slegte toestand wat hoofsaaklik aan wanbestuur toegeskryf kan word en in sommige dorpe bevorder dit onhigiëniese toestande," het De Jager gesê.
AfriForum-takke sal ook druk op owerhede in hul gebiede plaas om afvalmoniteringskomitees te stig om die afvalbestuursproses te verbeter.
Dié komitees sal bestaan uit munisipaliteite en belanghebbende partye wat vullisbestuur in die betrokke dorp wil verbeter.
Die ouditverslag sal ook aan die Groen Skerpioene oorhandig word vir verdere ondersoek en optrede teen skuldige munisipaliteite.
'n Navraag oor die ouditverslag en die toekoms van die verbetering van die stortingsterrein is aan die Oudtshoorn-munisipaliteit gestuur, maar teen druktyd is geen terugvoer ontvang nie.
Lees vorige artikels:
Betonheining vir stortingsterrein
Munisipaliteit se planne met stortingsterrein
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'