Update
OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn en die Klein-Karoo se nuwe aanlyn Facebook-radiostasie, Radio CG, maak groot golwe op sosiale media.
Radio CG is die breinkind van Nigel Goliath en is reeds drie maande operasioneel.
Goliath, wat ook 'n gewilde plaaslike rymkletser is, sê hy dink al 'n paar jaar daaraan om sy eie radiostasie te begin.
"My oorspronklike idee was om my eie FM radio te begin, maar om die toring alleen op te rig kos in die omgewing van R1 miljoen - iets wat vir my onbekostigbaar is. Dis toe dat ek na Facebook se live recording funksie kyk en daarmee begin eksperimenteer het. My heel eerste toets onderhoud was met my goeie vriend en rymkletser, Noemwoord. Ek en hy het toe die volgende dag in persoon ontmoet om my visie te bespreek, waarna hy besluit het om sy volle gewig in te gooi as omroeper van die stasie. Sedertdien is vele onderhoude met groot plaaslike rymkletsers, sangers en persoonlikhede deur my en my mede-omroepers, Wanie, YSK en Oom Andy gevoer."
Wat Radio CG uniek maak, is die feit dat enige persoon op enige plek kan uitsaai, mits hy oor die nodige sagte- en hardeware beskik. Tans saai Radio CG vanaf drie verskillende ateljees in Oudtshoorn uit, asook een in Potchefstroom. Goliath sê Radio CG skep 'n platform vir plattelandse kunstenaars sodat hul musiek deur die breë publiek gehoor kan word - vandaar die stasie se leuse, "Waar die platteland meer saak maak."
"Liefdadigheidswerk lê ons ook na aan die hart, en daarom het ons verlede maand besluit om die plaaslike liefdadigheidsorganisasie, Sport Buddy, se voedselprogramme ten volle te dek. Dit is deur sowat 3 000 luisteraars van so vêr as Kanada gevolg."
Radio CG dek enige plattelandse stories en nuus. Versoeke deur kunstenaars om hul musiek oor die lug te speel kan na radiocg3@gmail.com gestuur word. Goliath sê luisteraars kan eersdaags opwindende verwikkelinge by die stasie te wagte wees.
Vorige artikel: Radio CG maak golwe
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'