Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Nuwe aanlyn-radiostasie het verlede week sy debuut in die Klein-Karoo gemaak.
Radio Klein Karoo, die inisiatief van Danie le Roux, is 'n Afrikaanse radiostasie met die hooffokus op die Klein-Karoo.
Wat die stasie uniek maak, volgens Le Roux, is die feit dat dit nie 'n FM-stasie is nie, maar 'n aanlynstasie en dus kan mense regoor die wêreld na die stasie luister.
"Ons het selfs luisteraars in London wat al luister," het Le Roux gesê.
Le Roux, wat voorheen in Oudtshoorn as koerantbemarker gewerk het, het jare se ervaring in die mediabedryf en het 'n paar jaar vir Media24 gewerk. Hy het ook radio-ondervinding opgedoen by verskeie radiostasies soos Radio Tygerberg, Radio Disa en Radio Helderberg.
"My groot droom was egter om my eie stasie te begin. Luisteraars kan deelneem aan ons gesprekke en musiekversoeke instuur en kan ontspan terwyl hulle na die stasie luister.
Ek is tydens Covid-tyd weg by Media24 en het besluit om die radiostasie te begin en gedink Oudtshoorn met sy interessante mense en geskiedenis is die perfekte plek om te vestig."
Volgens hom mik hy om die stasie 'n lekker luister stasie te maak waar mense interaktief kan wees en ontspan.
"Ons het Vrydae 'n program oor Oudtshoorn, Oudtshoorn in Fokus, waar die dorp spesifiek in fokus geplaas word. Die idee is ook om Oudtshoorn en die omliggende dele aan die wêreld daar buite bekend te stel.
"Nie net die gewone besienswaardighede wat almal reeds ken nie, maar staaltjies en nuwe interessanthede."
Cyril Clarke, 'n bekende Oudtshoorniet bied, Ek onthou nog aan. Daar is ook elke Vrydag 'n program spesifiek vir tieners, Detensieklas, waar musiek spesiaal vir die tieners gespeel word en deur Hope Vermeulen aangebied word. Suleen Hamman bied ook elke Saterdag die Bak en Brou-program aan.
Le Roux sê luisteraars kan die Radio Klein Karoo-toepassing op hul fone aflaai en met die druk van 'n knoppie by die stasie ingeskakel wees.
Vorige artikel: Nuwe radiostasie uit die Karoo
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'