Update Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Na afloop van vanoggend se spesiale raadsvergadering het die burgemeester aangekondig dat die raad toestemming gegee het dat Oudtshoorn as 'n droogterampgebied verklaar word.
Dit volg nadat inligting van die weerburo, asook insette van Eden se hoof van rampbestuur, Gerhard Otto, vanoggend aan raadslede voorgelê is.
Volgens Otto is alle aanduidings daar dat Oudtshoorn oor die volgende ses maande buitengewone hoë temperature en buitengewone lae reënval gaan ervaar.
"Alhoewel die inligting daarop dui dat Oudtshoorn onder huidige omstandighede nog water vir ongeveer 170 dae het, dink ek dis veiliger om te werk op 100 dae."
Otto het gesê hy is bly om te verneem dat die munisipaliteit nou dringend 'n droogteplan opstel en implementeer aangesien daar nooit voorheen so iets bestaan het nie.
Tydens 'n mediakonferensie vroeër vandag het Colan Sylvester, Oudtshoorn se burgemeester, sowel as drie amptenare en die munisipale bestuurder 'n donker prentjie oor Oudtshoorn se watersituasie geskets, maar bevestig dat daadwerklike stappe geneem word om 'n waterkrisis die hoof te bied.
Dit blyk dat die provinsiale regering etlike miljoene rande beskikbaar sal stel om water van ander bronne na Oudtshoorn te bring. 'n Volledige berig oor die noodmaatreëls verskyn in Vrydag se uitgawe van die Oudtshoorn Courant. Intussen word inwoners gevra om dringend water te bespaar voordat 'n punt bereik word waar slegs 75liter water per dag per huishouding toegelaat sal word.
Kyk 'n video hieronder.
Tydens vanoggend se mediakonferensie was, van links: Johan Uys (hoof van Oudtshoorn se grootwaterwerke), Paul Muller (hoofbestuurder; siviele ingeneurswese), Allen Paulse (munisipale bestuurder), Colan Sylvester (burgemeester) en raadslid Johan Fourie (voorsitter van die komitee van tegniese dienste). Foto: Hannes Visser
Lees 'n vorige artikel: Noodvergadering oor watersituasie
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'