LADISMITH NUUS - Met die meerderheid mense reeds in 'n feestelike stemming, het die noodlot egter die gesin van Riaan Abrahams (43) van Ladismith wreed getref, toe sy liggaam verlede Dinsdag op 'n koppie naby sy huis gevind is.
Volgens die oorledene se vrou, Reval Witbooi (44), is hy die vorige dag om drieuur van die huis weg.
"Toe dit begin donker word het ek bekommerd geraak, want Riaan kom altyd huis toe, maak nie saak hoe laat dit is nie," het sy gesê.
"Ek het die polisie ingelig dat my man vermis is. Hulle kon hom nie opspoor nie en ek het self begin soek. Navrae het my na die koppie gelei waar ons sy liggaam gevind het."
Sy sê, wat haar die meeste ontstel is dat die mense wat by hom was, hom net so gelos het en haar nie eens verwittig het dat iets verkeerd is nie. Sy sê Abrahams was 'n hartlyer wat nie sy medikasie gereeld gebruik het nie.
Nadat die nuus oor Abrahams se liggaam in die gemeenskap versprei het, het talle mense op die koppie begin saamdrom. Die polisie het die gebied rondom die liggaam versper terwyl daar gewag is op forensiese patoloë van Oudtshoorn.
Witbooi en ander familielede het op die koppie gewag totdat die liggaam verwyder is. Volgens sers. Chris Spies, polisiewoordvoerder in die Suid-Kaap, word geen gemene spel vermoed nie.
Nuuskieriges op die koppie waar die liggaam van Riaan Abrahams verlede week gevind is. Foto's: Deon Meyer
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'