OUDTSHOORN NUUS - 'n Vrag van 72 groot lusernbale is Saterdagoggend vroeg op 'n plaas net buite Oudtshoorn afgelaai. Die vrag voer is die 1 000ste wat Burre Burger se droogtehulpprojek reeds landwyd afgelewer het. Terwyl die wolke belowend saampak, het 'n klompie boere van Volmoed en Armoed die vragmotor en sleepwa, hoog gelaai met puik kwaliteit lusernbale uit Hartswater, ingewag.
"Die voer sal aan 22 boere van Volmoed en Armoed uitgedeel word," sê Ilse Louw, wat die aflewering van voer met Burger koördineer.
Omstreeks halfagt het Frik Swan met die vrag by die plaas aangekom. "Ons is gisteraand sesuur uit Hartswater," sê hy.
Die aflewering is gedoen in samewerking met Mosselbaai Nissan se Oudtshoorn-tak. "Ons het so 'n jaar gelede by Burre se projek betrokke geraak," sê Ronnie Colin van die plaaslike Nissan-tak.
"Ons stel 'n Nissan Navara-bakkie en brandstof tot die projek se beskikking. Met die bakkie kan hulle na boere ry wat deur die droogte geknel word en voer gaan soek."
André Boltman en George Schneigansz, werknemers van Karroo Valley Farms, het die bale met vurkhysers opgetel en op Koos Grundlingh se vragmotor gelaai om na Volmoed/Armoed geneem te word.
"Dis 'n wonderwerk dat mense landwyd steeds vir ons omgee," sê Louis Grundlingh. "Mens raak maar moedeloos, maar hulp soos hierdie bring weer 'n bietjie hoop."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'