OUDTSHOORN NUUS -Duwayne Murphy, die 28-jarige, gebore Oudtshoorniet, is besig om groot spore in die filmbedryf te trap.
Hy is onlangs saam met twee ander deelnemers gekies om die Wes-Kaap in die, Encounters South African International Documentary Festival-kursus, te verteenwoordig.
Hierdie drie, Rae Human, Yusra Peters en Duwayne Murphy, sal teen twee ander provinsies, Vrystaat en Limpopo, deelneem. Volgens hom is daar net drie spanne uit die nege provinsies gekies.
Murphy vertel dat hy in die stofstrate van Toekomsrus grootgeword het en dat hy deur sy ma en grootouers grootgemaak is. Hulle het nie veel gehad het nie, maar dit het hom aangespoor om harder te werk sodat hy 'n goeie toekoms vir homself kon bou.
"Dit is moontlik om sukses te behaal deur harde werk, en ek hoop dat my lewe 'n inspirasie vir my broer, suster en elke kind in Oudtshoorn kan wees," vertel hy.
Murphy se liefde vir kuns en kultuur het op 'n vroeë ouderdom ontwikkel. Hy sê dat sy passie hiervoor in sy laerskooldae by Saturnus Primêr aangewakker is. "Ek het talle kuns- en kultuurtrofeë verower," sê hy. In 2013 matrikuleer hy aan Hoërskool Môrester en in 2019 voltooi hy sy film- en televisie-kwalifikasie deur iKasi Creative Media.
Murphy se passie en droom
Hy is veral passievol om lewe aan plaaslike produksies te gee, en dit kan gesien word in die talle bedrywe waarby hy al betrokke was.
Duwayne se droom is om in die filmbedryf te groei en terug te keer na sy tuisdorp, Oudtshoorn. "Ek wil graag my gemeenskap inspireer en beïnvloed deur my kennis en vaardighede met hulle te deel."
Duwayne se mylpale, om maar net 'n paar te noem, sluit in sy betrokkenheid as stigterslid van die liefdadigheidsfees in Oudtshoorn, die Blêrrie Ver Fees, werk aan 'n radioproduksie in samewerking met Lunch Box Theatre genaamd, A dog's life, hy tree as produksiekoördineerder vir iKasi Creative Media se dokumentêre reeks, As the Dust Settles op, hy werk as die projekbestuurder en fasiliteerder van die Oudtshoorn Film Boot Camp-werksessies en volgens hom is sy hoogtepunt van sy loopbaan die werk aan 'n Netflix en Gambit filmreeks waar hy as derde assistent regisseur aan 'n paar episodes gewerk het.
"Hierdie het my 'n groot geleentheid gegee om saam met akteurs soos Gail Mabalane, Sherman Pharo en Brandon Daniels te werk." Die reeks begin op 29 Maart op Netflix draai. Kyk gerus na 'n uittreksel van die reeks hier.
Meer oor die kursus
Hierdie kursus wat reeds op 6 Maart begin het, berei deelnemers voor, en stel hulle in staat om 'n tweedaagse filmfees van voorproduksie tot voltooiing te beplan en uit te voer. Deelnemers sal opgelei word in die bemarking van fees- en produksiebestuur, bedryfskurasie en filmprogrammering, gehoor- en ontwikkelingsverbouing, die bou van vennootskappe, tegniese koördinering en logistieke uitleg. Deelnemers word aanlyn opgelei en sal die laaste dag van opleiding op 17 Mei plaasvind.
Die eerste twee filmfeeste waaraan Murphy en sy spanmaats tans as deel van hul opleiding werk, sal 23 April by Hanover Park en 1 Mei op Suurbraak en gehou word.
Hier sal 'n reeks rolprente, Mutant, Rise from the Cape flats, Kujichagulia, Ulwandle en Le lac, aan inwoners gewys word, en sal inwoners die kans kry om met die produksiespan, akteurs en vervaardigers van dié rolprente te gesels. Die tema vir die twee feeste is, Reconnecting with nature again, en sal regstreeks, tydens die feesdag op sosiale media uitgesaai word. "Die fokus van die filmfeeste is die manier hoe ons mense afgestig het van die natuur, ons wil met die feeste go green bevorder," vertel hy.
Murphy vertel dat minder as 6% deelnemers uit al die inskrywings van 'n talentvolle poel van uitstekende Suid-Afrikaanse gemeenskapsfeesorganiseerders en aspirant-dokumentêre filmmakers, gekies is.
"Die kursus is gemik op vroeë beroepslui. Dit sal deelnemers die geleentheid gee om vorentoe hul eie volhoubare feeste te vestig, en voort te gaan om die filmbedryf in hul provinsies te ontwikkel," vertel hy.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’