OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit het vandeesweek met verskeie staatsdepartemente, NRO's en organisasies by die Toekomsrus-gemeenskapsaal vergader om 'n voorlopige rampbestuurplan te bespreek.
Bykans vyftien verskillende rolspelers wat die landbousektor, CapeNature, SAPD, Verkeersowerhede en verteenwoordigers van AIFA ingesluit het, het die vergadering bygewoon.
In die lig van die afgelope naweek se reën wat talle inwoners in Volmoed sonder elektrisiteit gelaat het asook Meiringspoort wat tydelik gesluit was, het Colan Sylvester (burgemeester) gesê dat rampe nie afsienbaar is nie. "Ons moet pro-aktief in die toekoms wees en voortdurend daarna streef om voorvalle beter te bestuur."
"Oudtshoorn is ons dorp wat beteken dat ons persoonlik verantwoordelikheid moet aanvaar vir die uitdagings wat daarmee gepaard gaan," het hy gesê.
Volgens die Oudtshoorn-munisipaliteit se rampbestuurplan (Vlak 3) is daar altesaam 12 rampgevare geïdentifiseer waarvoor daar mitigasie- en gereedheidsvlak-voorbereidings getref moet word. Die toprampgevare wat onmiddellike beplanning sal geniet is veldbrande, vloede, gevaarlike stowwe (hazmat), droogte, dieresiekte, seismiese gevare, padongelukke, vliegtuigongelukke, damwanfunksionering, menslike siektes, gure weerstoestande en slange.
Tommy Matthee, direkteur van gemeenskapsdienste, het in sy voorlegging gesê die munisipaliteit is bewus dat daar heelwat ander potensiële rampe is wat die gemeenskap kan tref, maar dat die lys geprioritiseer is volgens die mees waarskynlike vir die Oudtshoorn-omgewing.
Almal wat teenwoordig was, het afskrifte van die rampbestuurplan gekry en 10 dae gegee om dit te bestudeer en dan met addisionele voorstelle vorendag te kom.
Die finale plan sal dan tydens 'n raadsvergadering ter tafel gelê word.
Volgens Matthee beoog die munisipaliteit om een keer per maand met die onderskeie departemente te vergader om sodoende beter kommunikasie te bevorder wat uiteindelik net tot die voordeel vir die gemeenskappe kan wees wat die ergste deur rampe geraak word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'