KAROO NUUS - Lede van die Valke en die polisie se onluste-eenheid het verlede Woensdag, 5 Julie, op Kannaland se munisipale kantore toegeslaan en houers vol, wat klaarblyklik dokumente is, gekonfiskeer.
Volgens 'n betroubare bron is rekenaars en skootrekenaars ook gekonfiskeer.
Jeffery Donson, burgemeester van Kannaland-munisipaliteit, het gesê: "Dit is nou al die hoeveelste keer wat hulle op die munisipaliteit toeslaan, maar kry nooit inligting nie."
Zinzi Hani, woordvoerder van die Valke, het nie veel kommentaar oor die beslagleggings gelewer nie en slegs gesê dat hulle met 'n ondersoek besig is.
Volgens 'n verklaring van die Kannaland-munisipaliteit se raad, het die Valke die munisipaliteit "onder valse voorwendsels deursoek omdat die inligting wat hulle wou gehad het, 'nie vrywillig oorhandig sou word nie'."
Luidens die verklaring was dit deel van die inligting wat in die lasbrief was, wat tydens die ondersoek gebruik is.
In hul mediaverklaring noem die munisipaliteit dat hulle dit onomwonde stel dat hulle nooit onwillig was om met die Valke of die polisie saam te werk nie.
"Die deursoeking kan net as 'n agenda van ontevrede werknemers wat tans geskors is of reeds afgedank is gesien word. Hulle maak misbruik van staatsbronne deur individue wat deel was van die deursoeking."
Die verklaring lui verder dat dit duidelik is dat dié werknemers deel is van 'n groter netwerk van mense en/of organisasies wat die munisipaliteit vir persoonlike of politieke redes gevangene wil hou.
"Ons glo dat die saak deeglik ondersoek moet word sonder vrees vir die fluitjieblasers. As raad glo ons in reg en geregtigheid en sal ons steeds ons grondwetlike pligte uitvoer. Dit gaan wel 'n negatiewe impak op ons oudit hê omdat die deursoeking aan die begin van die ouditproses gedoen is."
Artikel: Valke slaan toe op Kannaland
Foto's: Deon Meyer
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’