OUDTSHOORN NUUS - 'n Groep, bekend as Red Oudtshoorn, het hulle misnoeë uitgespreek oor die koue skouer wat hulle glo nou gekeer word deur die DA beheerde raad nadat hulle hard gewerk het om die DA in die plaaslike verkiesing finansieel te steun.
Die ongelukkigheid spruit uit die wyse waarop die huidige raad en munisipale bestuur hulle pogings om die sekwestrasie van Pierre Nel op te los, hanteer.
Nel is in 2015 gesekwestreer alhoewel daar volgens die groep genoegsame bewyse was dat Nel geen bates het om te verkoop nie.
Nel het in Augustus 2015 na 30 jaar as raadslid in Oudtshoorn bedank nadat hy weens regskoste in 'n politieke saak gesekwestreer is, die Oudtshoorn Courant het op 21 Augustus 2015 oor Nel se bedanking berig.
Die regskoste van R600 000 waarvoor hy deur die munisipaliteit gesekwestreer is, hou verband met regsaksie wat hy in 2010 met die DA se skriftelike onderneming vir finansiële ondersteuning, geneem het.
Dit was om te probeer verhoed dat die ANC beheerde raad weer vir Noel Pietersen as munisipale bestuurder aanstel nadat hy die vorige jaar na 'n tugverhoor geskors is.
Nel wou ook verhoed dat Pietersen 'n bedrag van R1,5 miljoen ontvang as salaristerugbetaling vir die tyd wat hy geskors was.
Na sy bedanking het Nel gesê hy het die saak teen Pietersen begin om te verhoed dat nog belastingbetalersgeld wanaangewend word op 'n aanstelling wat nie gedoen moes word nie.
Nel het die saak in 2011 in die hoërhof verloor.
Hy het met die ondersteuning van die DA, appèl aangeteken.
Dit is in 2013 met koste van die hand gewys en volgens Nel het die DA daarna hulle onderneming om finansiële steun ontken, wat direk gelei het tot sy sekwestrasie.
Dit is oor hierdie kwessie dat Red Oudtshoorn dringend in gesprek wil tree met die huidige munisipale bestuur.
Volgens Leon Coetzee, wat verlede week namens Red Oudtshoorn, 'n brief aan die burgemeester, Colan Sylvester, gerig het, het die DA Pierre Nel 'n "skreiende onreg" aangedoen.
Hy sê hulle word nie die geleentheid gegun om Nel se saak aan die raad te stel nie.
"Die munisipaliteit het reeds in 2015 geweet Nel het geen bates nie en hulle kon toe reeds, onder administrasie van Cam Chetty, hulle eis teen Nel teruggetrek het.
"Hulle kan dit nog steeds doen, want dan kan Nel onmiddellik aansoek doen om rehabilitasie en weer met sy lewe angaan.
"As hulle die eis nie terugtrek nie, moet hy vyf jaar wag vir rehabilitasie."
In die brief wys Coetzee daarop dat hulle sedert 27 November van bakboord na stuurboord gestuur is en toe op 13 Februarie deur Sylvester in kennis gestel is dat die kwessie oor Pierre Nel afgehandel is en nie weer voor die raad sal dien nie.
Dié besluit is geneem op dieselfde raadsvergadering waar besluit is om alle verjaarde selfoonskuld van raadslede af te skryf.
Volgens Coetzee het hulle teen gister nog geen reaksie op hulle brief van voorverlede Dinsdag ontvang nie.
Die Oudtshoorn Courant het ook nie reaksie op 'n navraag oor hierdie kwessie ontvang nie.
Lees die brief aan Sylvester hier.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'