Update
TUINROETE NUUS - Jerry Motsau en Danielle Verster het twee weke gelede eerste in die mans- en vroueafdeling geeindig tydens die derde en laaste been van die Eden-straatmylreeks wat in Hartenbos gehardloop was. Die ATKV Hartenbos-straatmyl is ook die oudste straatmyl in Suid-Afrika.
Die wenner van die eerste twee wedlope in dié reeks, Ryan Mphahlele het besluit om nie vir die Hartenbos-wedloop in te skryf nie. Hy het verduidelik dat hy in 2018, toe hy wel aan al drie wedlope deelgeneem het, gesukkel het om te herstel weens die intensiteit van dié wedlope wat binne'n bestek van vyf dae plaasvind.
Tydens die prysuitdeling het Hans van der Veen (plaaslike reëlingskomitee) oor die visie van die Eden-straatmylreeks uitgebrei wat volgens hom in oorleg met nuwe titelborge ontwikkel sal word.
Hy het ook verwys na hoe dié reeks se voortbestaan in sy huidige formaat, bedreig was met die onverwagse verlies van sy titelborg. Dit was slegs deur die laat toetrede van Noordwes Universiteit en die verhoogde borgskap van Vrystaat Universiteit wat die organiseerders in staat gestel het om steeds drie bene in die reeks aan te bied.
Danielle Verster.
Van der Veen het al die borge (ATKV, Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport, Eden FM, Kleinplaas Vakansie-Oord, Surval Boetiek Olive Landgoed, Advocates Manor, JW Saad, Oudtshoorn Ford, Tours4SA, Grand Street Studios, Karoopot Restaurant, Richard Els) bedank wat dit moontlik gemaak het vir die Klein Karoo Atletiekfonds (KKAF) om voort te gaan om die reeks as 'n geleentheid om plaaslike talent te ontwikkel, aan te bied.
Vanjaar se nuwe baanmyle by die De Jager-atletiekstadion het baie positiewe terugvoer ontvang en daar word beplan om addisionale baanitems by die 2020 program te voeg. Die fokus sal egter steeds op die myl bly.
Die mans-ope wenners was:
- Jerry Motsau (4:05,62)
- Keletso Mokhonoana (4:06,47)
- Luan Munnik (4:08,60)
Die dames-ope wenners was:
- Danielle Verster (4:55,17)
- Simonay Weitsz (4:56.68)
- Tyler Beiling (4:56.86)
Lees 'n vorige artikel: Motsau en Verster eerste oor wenstreep
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'