OUDTSHOORN NUUS - Twee motorfietsryers is sedert Donderdag in afsonderlike botsings beseer.
In die eerste voorval het 'n motorfietsryer van George verlede Donderdag 'n donkie op 'n grondpad naby Dysselsdorp getref.
Volgens 'n familielid van die man het die stof in die pad sig bemoeilik. Twee donkies het in die pad geloop en een van hulle is getref.
Die motorfietsryer se sleutelbeen en 'n aantal ribbes is in die botsing gebreek en die BMW-motorfiets sal waarskynlik afgeskryf word.
In die tweede voorval het 'n motorfietsryer verskeie beserings opgedoen toe hy in Baron van Reedestraat teen 'n VW Polo gebots het.
Dit blyk dat die motorfiets en die Polo in teenoorgestelde rigtings in Baron van Reedestraat onderweg was toe die Polo in Van der Rietstraat ingedraai het en voor die motorfiets ingery het. Die motorfiets het die Polo aan die passasierskant getref. Die bestuurder van die Polo is nie beseer nie.
Inwoners het soos talle vorige kere weereens 'n beroep op sosiale media gedoen dat die munisipaliteit die besige kruising by Baron van Reede- en Van der Rietstraat veiliger moet maak aangesien daar gereeld botsings plaasvind.
Die motorfiets by die kruising nadat die motorfietsryer reeds in die ambulans gelaai is. Foto: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'