Update
DYSSELSDORP NUUS - Borgtog is Maandag in die Oudtshoorn-landdroshof geweier aan 'n man van Dysselsdorp wat van moord op sy saamleefmaat aangekla word.
Norman Avontuur (36) het volgens die ondersoekbeampte, sers. Alicia Willard, René Swartbooi (32) op Sondag 7 April in Wolwekloof so ernstig aangerand dat sy aan haar beserings beswyk het.
Volgens haar het hulle die betrokke middag saam met Nico Tieties en nog vriende gekuier toe Avontuur glo kwaad geword het omdat Swartbooi met een van die mans, Jeffrey Plaatjies, gestaan en gesels het. Hy en die oorledene was daarna in 'n woordewisseling en Swartbooi het later geloop.
Avontuur het haar agtervolg en met sy terugkeer aan Tieties en sy susters gesê om na Swartbooi te gaan kyk.
Volgens 'n verklaring van Tieties het hy Swartbooi langs die pad sien lê en bloed by haar mond sien uitkom. Sy was glo baie swak en hy het die polisie gebel.
Avontuur het egter glo besluit om nie vir die polisie te wag nie en hy het die oorledene huis toe gedra.
Toe sy werkgewer hom die Maandagoggend (8 April) kom haal vir werk het hy gesê dat hy nie sal kan gaan werk nie omdat hy nie vir Swartbooi wakker kry nie en sy koud is.
Avontuur het Maandag getuig dat hy skuldig sal pleit en oor R500 beskik vir borgtog.
Willard het egter borgtog teengestaan omdat sy vrees dat Avontuur staatsgetuies sal beïnvloed en intimideer. Daar bestaan ook 'n sterk moontlikheid dat hy weer by misdaad betrokke kan raak.
Landdros Theolin November het borgtog geweier omdat hy van mening is dat dit nie in belang van geregtigheid sal wees dat Avontuur vrygelaat word nie.
Sy werkgewer het te kenne gegee dat hy nie weer in diens geneem sal word nie terwyl sy moeder ook in 'n verklaring vra dat hy aangehou word omdat hy baie aggressief is wanneer hy onder die invloed van drank en dwelms is.
Verder het die hof 'n memorandum van die gemeenskapslede van Dysselsdorp ontvang waarin gevra word dat die beskuldigde in aanhouding bly.
Avontuur het twee vorige veroordelings vir aanranding en volgens die landdros dui dit daarop dat hy 'n tendens toon om geweldsmisdade te pleeg.
Die saak is vir verdere ondersoek tot 13 Mei uitgestel.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Dysselsdorp, Klein Karoo nuus'