DYSSELSDORP NUUS - 'n Man van Dysselsdorp het gister op aanklag van moord in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn nadat hy glo sy vriendin die afgelope naweek aangerand het en sy die volgende dag dood in haar pa se huis aangetref is.
Volgens kapt. Gert Fourie, bevelvoerder van De Rust-polisiestasie, het die voorval Sondagmiddag plaasgevind en is René Swartbooi (32) Maandagoggend dood in haar bed aangetref.
"Die beskuldigde, Norman Avontuur, het na bewering die slagoffer geslaan. Die nadoodse ondersoek het bewys dat sy weens inwendige bloeding as gevolg van moontlike aanranding met 'n stomp voorwerp gesterf het. Die voorval het by sy ouers se woning plaasgevind. Die beskuldigde het glo die slagoffer terug na haar pa se huis in Dysselsdorp geneem waar sy Maandagoggend dood aangetref is."
Maria Geswindt, Swartbooi se stiefma, sê sy het op die vrou se liggaam afgekom.
"René het Sondag na kerk by die vriend van haar gaan kuier. Hy woon by sy ouers. Hy het haar glo teruggebring huis toe, maar ons is nie seker wanneer dit gebeur het nie. Ek het Maandagoggend in haar kamer ingegaan en gesien sy lê op haar sy. Ek het met haar gepraat, maar sy het my nie geantwoord nie. Ek het haar omgedraai en toe sien ek sy is reeds dood en yskoud. Ek het toe haar pa gaan haal."
Roelf Campher, Swartbooi se pa, sê dit was vir hom 'n skok om sy dogter so te sien.
"Mens verwag nie om jou dogter so aan te tref nie. Maria het my kom haal en toe ek na René kyk toe sien ek sy is dood. Ons het na die tyd gehoor die man het haar geslaan."
Volgens Campher is hulle nog in die proses om begrafnisreëlings te tref en sal sy na verwagting volgende naweek op De Rust, waar Swartbooi se ma begrawe is, ter ruste gelê word.
'Ons bring jou die nuutste Dysselsdorp, Klein Karoo nuus'