Update
DYSSELSDORP NUUS - Borgtog is gister in die landdroshof op Oudtshoorn geweier aan ’n man van Dysselsdorp wat van moord op sy saamleefmaat aangekla word.
Die 36-jarige Norman Avontuur het volgens die ondersoekbeampte, sers Alicia Willard, die 32-jarige René Swartbooi op Sondag 7 April in Wolwekloof so ernstig aangerand dat sy aan haar beserings beswyk het.
Hulle het die betrokke middag saam met Nico Tieties en nog vriende gekuier toe Avontuur glo kwaad geword het omdat Swartbooi met een van die mans, Jeffrey Plaatjies, gestaan en gesels het. Hy en die oorledene was daarna in ‘n woordewisseling en Swartbooi het later geloop.
Avontuur het haar agtervolg en met sy terugkeer aan Tieties en sy susters gesê om na Swartbooi te gaan kyk.
Volgens ‘n verklaring van Tieties het hy Swartbooi langs die pad sien lê en bloed by haar mond sien uitkom. Sy was glo baie swak en hy het die polisie gebel.
Avontuur het Mandag getuig dat hy skuldig sal pleit en oor R500 beskik vir borg.
Die ondersoekbeampte het borgtog teengestaan omdat sy vrees dat Avontuur staatsgetuies sal beinvloed en intimideer.
Landdros Theolin November het in sy uitspraak gesê elke persoon is geregtig om vrygelaat te word op borg en dat daar baie goeie redes vir weiering moet wees.
Hy het borgtog geweier omdat hy van mening is dit nie in belang van geregtigheid sal wees dat Avontuur vrygelaat word nie.
Sy werkgewer het te kenne gegee dat hy nie weer in diens geneem sal word nie terwyl sy moeder ook in ‘n verklaring vra dat hy aangehou word omdat hy baie aggressief is wanner hy onder die invloed van drank en dwelms is.
Verder het die hof ‘n memorandum van die gemeenskapslede van Dysselsdorp ontvang waarin gevra word dat die beskuldigde in aanhouding bly.
Die saak is vir verdere ondersoek tot 13 Mei uitgestel.
Lees 'n vorige artikel: 32-jarige glo doodgeslaan
'Ons bring jou die nuutste Dysselsdorp, Klein Karoo nuus'