OUDTSHOORN NUUS - 'n Mobiele kliniek vir diere doen elke Donderdag rondes in die Bridgton- en Toekomsrus-omgewing.
Volgens Vanessa Engelbrecht, voorsitter van Animal Care Team, is die kliniek deur die staatsveearts moontlik gemaak en ondersoek dr. Christiaan Blignaut die diere.
"Die projek word deur die diere-organisasies wat uit ACT, die skut, Oudtshoorn Dogs in Need en Oudtshoorn Volunteers vir Diere, saam met die staatsveearts gedoen. Terwyl die dokter die diere ondersoek doen die vrywilligers huisbesoek om seker te maak die diere is goed versorg en die omstandighede waar hulle woon is reg. Ons probeer ook die mense sover ons kan opvoed en help," het sy gesê.
Verlede Donderdag was die eerste keer wat hulle die bussie kon gebruik.
"Ons het voorheen van 'n bakkie af gewerk, maar die bussie is baie meer gerieflik en die veearts kan die diere deeglik ondersoek. Ons ontwurm die diere en gee ook medikasie vir vlooie en bosluise. Die diere wat gesteriliseer moet word, word op 'n Dinsdag, ook deur dokter Blignaut by die staatsveearts se spreekkamers gedoen."
Dr. Christiaan Blignaut staan in die deur van die nuwe mobiele dierekliniek.
ARTIKEL & FOTO'S: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'