OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n man wat teregstaan op twee aanklagte van verkragting en een van seksuele aanranding, is in die streekhof vir verdere verhoor verdaag na 'n verhoor binne 'n verhoor oor die toelaatbaarheid van 'n waarskuwingsverklaring.
Die beskuldigde, Karel Minnies het die hof versoek om 'n waarskuwingsverklaring wat hy afgelê het, te verwerp omdat sy regte nie deur die ondersoekbeampte aan hom voorgehou is nie, en hy gedwing is om 'n blanko-dokument te onderteken.
Volgens hom het die ondersoekbeampte, sers. Joyce Kammies, hom gewaarsku dat hy "lank sal sit" indien hy nie 'n verklaring aflê nie.
Minnies se aansoek is deur die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, teengestaan.
Streeklanddros Daniel Boks het in sy uitspraak gesê dat dit die beskuldigde se reg is om op 'n verhoor binne 'n verhoor aan te dring en die onus op die staat berus om die toelaatbaarheid van 'n waarskuwingsverklaring te bewys.
Die hof het bevind dat Kammies se weergawe dat hy langer in die tronk sal sit indien hy nie 'n verklaring aflê nie, nie sin maak nie. Hy het self besluit om 'n verklaring af te lê en reeds getuig dat hy nugter, by sy sinne en nie kwaad was nie.
Die ondersoekbeampte het getuig dat sy sowat 25 minute bestee het om aan hom sy regte te verduidelik en hy toe vrywillig besluit het om 'n verklaring af te lê en 'n regsverteenwoordiger aan te stel.
Die saak is daarna vir voortsetting uitgestel tot 24 Maart. Minnies bly in aanhouding.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'