In 'n eksklusiewe onderhoud met die Oudtshoorn Courant Maandag, het Madikizela gesê hy is diep ongelukkig oor die feit dat die Oudtshoorn-munisipaliteit byna aan die einde van die finansiële jaar, 'n astronomiese 66% van hul begroting op behuising nie spandeer het nie. "Dit is onaanvaarbaar dat mense sonder huise sit en dat 'n plaaslike owerheid nie in staat is om geld wat hulle moet gebruik aan te wend nie. Ek is baie ongelukkig hieroor."
Hy het verduidelik dat munisipaliteite, volgens hul grootte en behoeftes jaarlikse toekennings ontvang. Van munisipaliteite word verwag om besigheidsplanne vir behuisingsprojekte en dienste voor te lê. Soos wat projekte voltooi word, word geld oorbetaal. Indien 'n munisipaliteit nie die volle toekenning gebruik nie word dit verbeur. Die verbeurde geld word nie oorgedra nie en die munisipaliteit kry die volgende jaar slegs 'n nuwe toewysing.
Madikizela skryf die stadige vordering van behuising toe aan swak vooruitbeplanning van behuisingsbehoeftes en swak professionele vermoëns van amptenare. Om hierdie probleme aan te spreek het hy professionele kundigheidspanne op die been gebring wat beskikbaar is om munisipaliteite by te staan en is hy vol vertroue dat teikens bereik kan word deur ministeriële intervensie.
Volgens 'n verklaring van die minister se kantoor het die provinsie R1,638 biljoen vir die huidige finansiële jaar begroot en word daar beplan om 12 652 huise te bou en 13 059 gedienste persele in die provinsie beskikbaar te stel. Hy het egter munisipaliteite geïdentifiseer waar die voorsiening van huise glad nie na wense verloop nie. Munisipaliteite wat hier-
die week deur hom besoek is, is Oudtshoorn, Bitou, George, Mosselbaai, Swartland, Breedevallei, Drakenstein en Stellenbosch.
Minister staan onwettige besetters te woord
In 'n onverwagte wending met die minister se besoek Maandag het hy tyd ingeruim om ongeveer 60 onwettige besetters van hui-se in Rosebank toe te spreek. Die besetters het gevra om geleentheid gegun te word om aan Madikizela te verduidelik waarom hulle onvoltooide huise in Rosebank beset het. Madikizela het dit duidelik gestel dat hy gekant is teen enige onwettige besettings, maar het toegegee dat hy graag hul redes sal wil aanhoor. "Ek is heeltemal gekant teen enige onwettige besettings, maar ek moet erken, as ek hoor dat mense al 20 jaar op 'n waglys is en dan word huise toegeken aan mense wat jonger as 20 jaar is sê dit vir my iets is verkeerd." Nadat hy verskillende aantygings en probleme aangehoor het, het Madikizela die groep die versekering gegee dat hy indringend na hul aantygings sal kyk en binne enkele weke weer met hulle sal vergader en terugvoering gee.
Die Oudtshoorn Courant het 'n navraag ten opsigte van die gesprek van die minister met die munisipaliteit aan die munisipale bestuurder gestuur en sal volgende week daaroor berig.
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS

Minister Madikizela gee aan inwoners die versekering dat hy hulle te woord sal staan direk na sy samesprekings met die munisipaliteit.