OUDTSHOORN NUUS - 'n Advertensie wat twee weke gelede deur Aifa, die vliegskool in Oudtshoorn, in koerante geplaas is, het reaksie van verskeie oorde gelok.
Die advertensie volg nadat die Oudtshoorn-munisipaliteit verordeninge ten opsigte van die lughawe op 6 Julie gepubliseer het. Volgens die uitvoerende hoof van Aifa, Pikkie Siebrits, wil hulle die munisipaliteit versoek om sommige beperkinge wat volgens die verordening op die vliegskool van toepassing is, verslap.
Volgens die verordening word opleidingsvlugte beperk tot Maandae tot Vrydae vanaf 07:00 tot 18:00 en Saterdae vanaf 08:00 tot 13:00.
Aifa versoek vliegopleiding gedurende dagligure vanaf Maandag tot Saterdag asook nagvlieg kringvlug-opleiding ongeveer 12 keer per jaar asook weeklikse nagopleiding met opstygings weg van die dorp.
Nadat die advertensie verskyn het, het verskeie besighede aangedui dat die teenwoordigheid van Aifa 'n groot ekonomiese inspuiting vir die dorp is. Een van die sakemanne wat reeds meer as 15 jaar in die dorp sake behartig, het gesê: "Hier kom miljoene rande uit die buiteland in die dorp in vir opleiding van die studente en ek dink nie mense besef dat daardie geld op verskeie maniere in die dorp aangewend word nie."
'n Persoon wat in landbou betrokke is het genoem dat Oudtshoorn se ekonomie tot 'n groot mate op boerdery berus. "Ons is die afgelope klompie jare in 'n situasie waar die volstruisbedryf geweldig swaarkry, die huidige droogte het ons op ons knieë en die dorp het elke sent nodig wat inkom."
Aan die ander kant van die munt is daar sommige eienaars van gastehuise en eiendomsondernemings wat meen die vliegtuie het 'n negatiewe invloed op toerisme en op die eiendomsmark.
Dit is juis om hierdie rede dat Siebrits by die afgelope netwerkaand van die besigheidskamer 'n beroep op besighede gedoen het om hulle stem te laat hoor ten opsigte van hulle standpunt oor Aifa. Hy het dit duidelik gestel dat hy nie aan enigiemand wil voorskryf nie, maar dat dit belangrik is dat die munisipaliteit 'n gebalanseerde weergawe van mense se opinie jeens die vliegskool kry.
Volgens die advertensie wat in koerante verskyn het, beloop die jaarlikse bydrae van Aifa tot die dorp se ekonomie, ongeveer R40,7 miljoen.
Aifa is sedert 2012 in Oudtshoorn en het ook opleidingsfasiliteite in George en Beaufort-Wes. Daar is tans 85 Chinese studente in Oudtshoorn wat deel is van 'n totale groep van 214 by al drie basisse.
Een van Aifa se opleidingsvliegtuie.
Verskeie besighede het hierdie week besluit om hulle steun aan Aifa as 'n besigheid, wat deel is van die dorp se ekonomie, by wyse van advertensies te toon.
"Ek weet dat die vliegtuie vir sommige mense 'n irritasie is, maar as Oudtshoorn destyds as die streek se hooflughawe gekies was in plaas van George, het ons vandag Boeings gehad wat oor ons koppe gevlieg het. Kom ons meet eerder die vliegskool aan die positiewe bydrae as aan die irritasiewaarde," het een van die sakemanne gesê.
Die Oudtshoorn Courant het ook op grond van 'n plasing oor die vliegskool wat op Facebook verskyn het, 'n navraag aan die Oudtshoorn Advieskantoor (OAK) gestuur. Volgens die persoon wat die plasing gemaak het, beskik hulle oor inligting wat daarop dui dat 'n ondersoek gelas moet word na onder andere die huurooreenkoms tussen die vliegskool en die munisipaliteit.
In 'n telefoongesprek met die persoon blyk dit egter dat dit inligting is wat betrekking het op 'n gesprek ongeveer drie jaar gelede. Die OAK het nie gereageer oor 'n navraag waarin hulle gevra is om hulle huidige standpunt ten opsigte van die vliegskool te stel nie.
In reaksie op 'n navraag aan die Oudtshoorn-besigheidskamer het Gideon Badenhorst, die voorsitter, gesê die besigheid se kernfunksie is om die ekonomie van Oudtshoorn te bevorder sodat plaaslike besighede lewensvatbaar is.
Dit is nie die besigheidskamer se mandaat om een besigheid bo 'n ander te bevoordeel nie, wat belangrik is, is dat alle besighede aan voorgeskrewe vereistes moet voldoen.
Die munisipaliteit het teen druktyd nie op 'n navraag ten opsigte van die kwessie gereageer nie. Wat wel die afgelope week duidelik geword het, is dat 'n groot aantal besighede van mening is dat mense nie oorhaastig en onoordeelkundig moet optree en in die proses die ekonomie van die dorp wat tans onder kwaai druk is, verder benadeel nie.
Inwoners het tot vandag geleentheid om as deel van 'n publieke deelnameproses, voorleggings aan die munisipaliteit, vir aandag van Jaco Eastes, te maak.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'