Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Meisie van 11 is die week dood nadat 'n klip wat na iemand anders gegooi is, haar teen die kop getref het. Venesere Olivier was op 15 September saam met 'n vriendin op pad na 'n winkel toe sy in Siyabongastraat deur die klip getref is wat tydens 'n argument tussen 'n man en vrou gegooi is.
Venesere is drie dae later in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad oorlede.
Volgens Jessica Lint, het sy Sondag haar dogter by 'n vriend se huis gaan soek waar die argument ontstaan het.
"Hy het kwaad geraak omdat ek vir hom gesê het my kind is in sy huis en dat hy haar nie wou laat uitkom nie. Hy het my teen 'n muur gegooi en rondgestamp waarna hy 'n groot klip opgetel en gegooi het."
Volgens Lint het sy egter eers na die tyd uitgevind iemand is deur die klip getref. Venesere se ma, Sanna Olivier, sê Venesere en 'n vriendin was op pad winkel toe toe Venesere deur die klip getref is.
"Die klip het my kind teen haar slaap getref. Die dokter in die Kaap het gesê sy het bloed op haar brein gehad en hulle het haar toe breindood verklaar," het die hartgebroke ma gesê.
"Venesere was 'n regte huiskind. Sy sou nooit sonder my gaan lê het nie. As ek vir haar gesê het om in haar kamer te gaan lê het sy met haar duim in haar mond gestaan tot ek uiteindelik ingegee het.
My hart is stukkend. Ek het nooit gedink ek sou my kind op so 'n manier verloor nie."
Die familie kon nog nie haar begrafnis reël nie omdat hulle nog wag dat haar liggaam uit Kaapstad kom.
Kaptein Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het gesê 'n 20-jarige man, Brandon Fortuin, is vir moord in hegtenis geneem en het reeds in die hof verskyn.
Saturnus Primêre Skool, waar Venesere skool gegaan het, het die week 'n huldeblyk aan haar op Facebook gelewer waar hulle haar "as 'n baie skaam en stil dogter" beskryf.
Lees 'n vorige artikel: Man vir moord in hegtenis geneem
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'