KAROO NUUS - Gayton McKenzie, president van die Patriotic Alliance politieke party, is Maandag in Beaufort-Wes as burgemeester van die Sentrale Karoo-distrik ingesweer.
McKenzie is deur die KDF (Karoo Democratic Force) genomineer en het onbestrede gestaan vir die burgemeesterposisie nadat hy verlede week as raadslid ingesweer is.
Hierdie verwikkelinge volg nadat die party se burgemeester van Laingsburg, Mitchell Smith, onlangs uit die party bedank het as deel van 'n strategiese skuif deur die party. Smith sal volgens die party herontplooi word in 'n alternatiewe portefeulje.
Die ANC is tans in koalisie met die PA, Karoo Gemeenskap Party en Karoo Democratic Force om die munisipaliteit te beheer.
Dit is slegs die PA se tweede keer in hul relatiewe kort bestaan dat hulle 'n burgemeesterspos in enige munisipaliteit beklee nadat Smith in November verlede jaar die spreekwoordelike warm stoel vir die eerste keer opgeneem het.
Truman Prince, voormalige burgemeester van Beaufort-Wes se vrou, Thersh Prince (PA), is verkies as onderburgemeester van die distrik.
Marlon Daniels, nasionale voorsitter van die Patriotic Alliance, het aan Oudtshoorn Courant bevestig dat McKenzie beoog om geen salaris of enige voordele van die munisipaliteit te ontvang nie.
Dit sluit in geen amptelike voertuig, petrol, lyfwagte of selfs mediesefonds nie. Selfs die kos wat tydens McKenzie se inhuldiging bedien was, het die munisipaliteit nie 'n sent gekos nie.
Hierdie fondse sal alles volgens Daniels aangewend word ten bate van die gemeenskap.
"Ons burgemeester se munisipale voertuig sal verkoop word vir 'n ambulans omdat hier bitter min of geen in die area is nie.
"Dan is sy eerste taak om die drie plaaslike swembaddens te herstel - wie weet, dalk kom onse volgende Chad le Chlos uit ons swembaddens. Ook die tekort aan ouetehuise en ’n dwelmrehabilitasiesentrum is iets wat ons dringend moet aanspreek.
Straatkinders is die volgende kritiese afdeling wat hoog op die prioriteitslys en daarom beoog ons om fondse vir plaaslike NRO's te voorsien sodat daar in hul behoeftes voorsien kan word."
Daniels het toegee dat dit algemene praktyk is dat politieke partye beloftes maak wat eenvoudig nie nagekom word nie.
"Ons as die PA wil dit egter duidelik maak dat ons graag verantwoordbaar gehou wil word deur die gemeenskap en daarom sit ons 'n sperdatum op alles. Geen beloftes gaan gemaak sonder 'n sperdatum nie. Binne die eerste 100 dae sal daar reeds radikale veranderinge wees. Burgemeester McKenzie se boodskap aan die mense is dat hy nie hier is om te kom vat nie, maar om hoop te bring. Daar’s 'n new sheriff in town en hy wil hierdie distrik omskep in die nuwe Dubai," het Daniels gesê.
Daniels het ook lig gewerp oor die PA se standpunt dat hulle gekant is teen onwettige immigrante in Suid-Afrika.
"Ons het geen probleem met immigrante nie, net diegene wat onwettig in ons land is. Een van die grootste probleem is dat hul vingerafdrukke nêrens op databasisse is wat beteken hulle pleeg misdaad na hartelus, want hulle kan nie opgespoor word nie.
"Ons arme oumense se HOP-huise word verkoop vir appel en ui vanwaar hulle besighede bedryf. Ons wil die wettigheid daarvan ondersoek. Ons wil die land wys hoe om met hulle te deal. As PA sal ons binnekort van deur-tot-deur loop vir wettige dokumentasie en indien dit nie getoon word nie, sal ons 'n burgerlike arrestasie maak en die skuldiges aan die owerhede oorhandig."
Vorige artikel: Mckenzie Burgemeester van Sentrale Karoo Distrik
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'