OUDTSHOORN NUUS - ‘n Man van Gauteng, wat in 2019 in Pretoria met ‘n Ford Focus wat hy net wou deurkyk, weggery, en die volgende dag in Beaufort-Wes in hegtenis geneem is, is Vrydag 18 November, in die Oudtshoorn-streekhof tot sewe jaar gevangenisstraf gevonnis nadat hy aan voertuigdiefstal skuldig bevind is.
Ismael Grace (49) het tot die einde onskuldig gepleit ten spyte van verdoemende getuienis teen hom.
Grace, wat sy eie verdediging waargeneem het, het die klaer, Samuel Ogunjimi, die betrokke dag gevra om te kyk hoe die motor van binne lyk en toe daarmee weggejaag.
Sy verweer dat hy R25 000 as deposito aan Ogumjimi betaal het en die balans van R20 000 in paaiemente van R5 000 betaal het, is deur die hof verwerp omdat hy geen bewyse van die betalings kon toon nie.
Ogunjimi het getuig dat hy Grace as ‘n 'Moslem-broer' vertrou het en vir drie dae gewag het voordat hy ‘n saak by die polisie gemaak het toe hy nie sy selfoon antwoord nie.
Grace het tydens sy verhoor getuig die kwitansies is deur die ondersoekbeampte, a.o. Bertram Boezak van Beaufort-Wes, vernietig.
Hy het ook aangevoer dat hy nie vir diefstal van ‘n voertuig in hegtenis geneem is nie, maar vir die besit van ‘n gesteelde voertuig en die howe in Beaufort-Wes en Oudtshoorn nie die jurisdiksie het om hom te verhoor nie.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof vir direkte gevangenisstraf gevra omdat dit die enigste gepaste vonnis vir Grace sal wees wat nie ‘n eerste oortreder is nie.
Volgens sy vorige veroordelings is hy in 1990 op 35 aanklagte van diefstal skuldig bevind en in 1992 ook aan twee toe hy as Anthony Jacques Steyn bekend was.
In September 1997 is hy ook aan huisbraak skuldig bevind toe hy as Anthony Bezuidenhoudt bekend was.
Hy is skuldig bevind aan ‘n ernstige misdaad wat algemeen voorkom en fyn beplan was. Die klaer het hom vertrou.
Grace het ter versagting van vonnis gevra om sy ouderdom en mediese toestand in ag te neem. Hy ly aan vele kwale, is MIV-positief en het al ligte breinskade opgedoen. Volgens hom kry hy ook nie al sy medikasie in die tronk nie.
Hy die hof meegedeel hy is getroud en het ses kinders waarvan die oudste 36 jaar is. Hy is ook die enigste broodwinner.
Hy hou vol dat hy onskuldig is en het veertien werknemers wat nou hul werk sal verloor. Goulding het aan die hof gesê die hof hoor na die beskuldigde se skuldigbevinding vir die eerste keer dat hy die eienaar van drie maatskappye is.
Voorts is die staat nie ‘n dokter nie, maar dit blyk dat die beskuldigde ‘n baie gesonde man is.
Streeklanddros Ntsoki Moni het in haar uitspraak gesê oorweldigende getuienis voor die hof het geen twyfel gelaat dat die staat sy saak bo redelike twyfel bewys het nie.
Die hof het bevind dat ‘n opgeskorte vonnis of korrektiewe toesig nie gepaste vonnisse sal wees nie en ‘n verkeerde boodskap sal uitstuur.
Vorige artikels:
- Saak teen vermeende voertuigdief finaal uitgestel
- Voertuigdiefstalsaak weer uitgestel
- Vermeende voertuigdief op eetstaking
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'