OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n man van Pretoria, wat van voertuigdiefstal aangekla word, is verlede Donderdag in die Oudtshoorn-streekhof vir 'n laaste keer uitgestel nadat die verdagte sy negende regsverteenwoordiger die trekpas gegee het.
Landdros Ntsoki Moni het gelas dat die saak teen Ismael Grace op 14 Julie voortgesit sal word sodat die saak wat reeds in 2019 begin het, afgehandel kan word.
Grace het weer beswaar aangeteken teen sy verhoor in 'n hof in die Wes-Kaap omdat die beweerde diefstal van die voertuig in Gauteng plaasgevind het en die hof in Oudtshoorn nie oor die jurisdiksie beskik om hom te verhoor nie.
Grace word daarvan aangekla dat hy op 20 Januarie 2019 in Beaufort-Wes in besit van 'n gesteelde Ford Focus motorvoertuig ter waarde van R80 000 was, wat aan Samuel Ogunjimi, van Pretoria behoort het.
Ogunjimi het getuig dat Grace nie die waarheid praat wanneer hy sê dat hy die motor van hom gekoop het nie, volgens hom het Grace hom gevra om te kyk hoe die motor van binne lyk en toe daarmee weggejaag.
Grace voer egter aan dat hy vir Ogunjimi R25 000 as deposito betaal het, met 'n ooreenkoms dat hy die balans in maandelikse paaiemente van R5 000 sou afbetaal.
Moni het na die bevel dat die saak op 14 Julie voortgesit sal word dit aan Grace gestel dat die staat reeds sy saak gesluit het en hom gevra of hy self wil getuig en getuies wil roep. Op 'n vraag of hy weer die ondersoekbeampte en die klaer kan roep het die hof hom meegedeel dat dit nie sy getuies is nie.
Die staatsaanklaer Anzelle Laubscher, het versoek dat die verhoor voortgaan omdat Grace moedswillig is en die verrigtinge vertraag.
Grace het hierop gereageer en gesê die redes waarom hy sy vorige regs-verteenwoordigers afgedank het is omdat nie een van hulle sy instruksies uitgevoer het nie.
Moni het ter afsluiting dit aan Grace gestel dat hy deur enige hof in die land verhoor kan word en dat die saak tot 14 Julie uitgestel is.
Grace bly in aanhouding nadat twee borgtogaansoeke van hom al geweier is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'