Gallery
OUDTSHOORN NUUS - 'n Polisiebeampte het Woensdagmiddag eiehandig 'n vermeende skelm wat 'n byl uit Checkers gesteel het in Hoogstraat vasgetrek.
Kort na die verdagte die byl gesteel het, het hy laat spaander en sekerheidswagte het hom agterna gesit.
Sersant Raymondo Booysen, 'n polisiebeampte wat met patrollie besig was, het die voorval gesien en ook die skelm agterna gesit.
Hy het die man ingehardloop en hom gevang voor hy 'n stegie na die taxi-staanplek kon bereik.
Die voortflugtige het 'n vrou wat by een van die klerewinkels werk in haar maag geslaan toe sy gepoog het om hom te vang.
Die man het homself teegesit en van die straatkinders het oproerig geraak omdat die sersant die man wou wegneem.
'n Sekerheidsbeampte wat ook agterna gehardloop het kon daarin slaag om die byl af te neem.
Sersant Booysen het, ten spyte van die oproerigheid van leeglêers en die straatkinders, die skelm in hegtenis geneem en hom terug geneem na Checkers toe.
Die man het egter gepleit dat Booysen hom nie moet arresteer nie.
Munisipale wetstoepassers moes hulle begelei en die oproeriges weghou.
Die man is by Checkers in 'n vangwa gelaai en na die polisiestasie geneem.
Kaptein Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie het gesê die man is vir winkeldiefstal in hegtenis geneem.
Sersant Raymondo Booysen trek die man in Hoogstraat vas.
Lees 'n vorige artikel: Skelm in Hoogstraat vasgetrek
ARTIKEL EN FOTO'S: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'