Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Bongolethu is gelukkig om te lewe na hy Maandag in 'n brandende huis in Siyabongastraat vasgekeer was.
Mabuthi Qayi, het volgens die bure, angsbevange in die huis geskree terwyl die brandweer die deur van buite moes oopbreek. Qayi kon nie vinnig genoeg die deur oopsluit nie. Hy is deur paramedici op die toneel vir rookinaseming behandel en het geen brandwonde opgedoen nie.
Die brandweer was vinnig op die toneel en het behoorlik gespook om die brand te blus. Dele van die huis was reeds besig om inmekaar te tuimel en dit het die brandweer genoodsaak om twee mure van die huis om te stamp sodat hulle by die vertrekke wat brand kon uitkom.
Volgens Vuyani Qayi, Mabuthi se broer wat nie tydens die brand in die huis was nie, woon hy, sy broer, sy ma, Elizabeth Twele en 'n driejarige seun in die huis.
"Ek was nie by die huis nie. Die mense het my kom haal en gesê die huis brand af. Ek weet nie hoe nie, maar die kind kon betyds uit die huis kom. Dit is net my broer wat binne was."
Twele was voor die brand by die winkel en het op pad terug gesien haar huis is in vlamme gehul. Sy en die seun is op die toneel vir skok behandel.
Die gesin het alles in die brand verloor.Die oorsaak van die brand is nie bekend nie.
Brandbestryders by die huis wat brand.
Elizabeth Twele word deur paramedici na die ambulans geneem. Foto's: Liezl van Niekerk
Lees 'n vorige artikel: Man in brandende huis vasgekeer
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'