Update
OUDTSHOORN NUUS - ‘n Man van Oudtshoorn wat op Kersaand 2016 'n jong man in ‘n nagklub doodgesteek het, is verlede Donderdag in die streekhof aan moord skuldig bevind en vonnisverrigtinge is tot volgende jaar uitgestel.
Alfonso Malgas (26) het tereggestaan op die moord van die 19-jarige Adrian Oliphant. Hy het onskuldig gepleit en aangevoer dat hy homself verdedig het toe ‘n groep van agt mans, waaronder die oorledene, hom glo aangeval en hy twee keer na hulle gesteek het.
Hy het glo nie geweet of hy iemand raakgesteek het nie, het hy getuig.
Volgens hom wou hy die nagklub verlaat om na 'n vriend te gaan soek toe hy deur die groep mans in die voorportaal aangeval is. Volgens hom kon hy nie verstaan waarom hulle hom wou aanval nie omdat hy nie betrokke was by skermutselings vroeër die aand nie. “Een van hulle het ‘n glas na my gegooi wat ek met my arm gekeer het.”
Hy het ook getuig dat die mans hom met twee bierbottels geslaan en die broer van die nagklubeienaar hom met ‘n mes wou steek en gedreig het om hom te laat doodskiet.
Die staatsaanklaer, Willem Vister, het dit aan Malgas gestel dat hy sy weergawe van die aand se gebeure aanpas.
Streeklanddros Retha Pretorius het Malgas se getuienis verwerp en bevind dat die staat sy saak bo redelike twyfel bewys het. Nie een van die groep mans het ‘n wapen gehad nie, terwyl die oorledene tien steekwonde opgedoen en Malgas die enigste een was wat dit kon toedien.
Die oorledene het nie ‘n wapen gehad nie en die beskuldigde se lewe was nie in gevaar nie, het die hof bevind.
Die beskuldigde het ook nie die hof beïndruk as ‘n geloofwaardige getuie nie en die opset gehad om te dood. Hy het eers tydens die verhoor getuig dat hy ook beserings opgedoen het.
Die saak is vir vonnis tot 23 Januarie 2020 uitgestel en Malgas word tot dan aangehou.
• Die Oudtshoorn Courant het verlede week berig dat Malgas ook voor verlede Sondag op 'n klag van besit van 'n ongelisensieerde vuurwapen in hegtenis geneem is. Die polisie die .38-rewolwer en rondtes by sy huis in Rosebank gevind. Malgas het op 3 Desember op die klag in dié hof verskyn. Die wapen is vir ballistiese toetse weggestuur en kan op die stadium nog nie aan 'n misdryf verbind word nie. Malgas het intussen sy borgtogaansoek op die vuurwapen-klag laat vaar. Hy familie is van Efrahim Malgas, een van die verdagtes wat vir die moord van Justin Booysen in hegtenis geneem is. Booysen is einde November in sy huis in Rosebank doodgeskiet.
Klik hier vir vorige artikels:
- Uitspraak later in kuierplek moordsaak
- Moordsaak by kuierplek uitgestel
- Borgtog vir moordverdagte
- Opvolg: 18-jarige doodgesteek
- 2 mans tydens Kersfees wreed vermoor
- Twee voor Kersfees vermoor
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'