OUDTSHOORN NUUS - Uitspraak in die saak teen 'n man wat daarvan aangekla word dat hy op Kersaand 2016 'n jong man in die Face da Bass-nagklub doodgesteek het, is na die beskuldigde se getuienis vir slotargumente en uitspraak uitgestel tot 1 Julie.
Alfonso Malgas staan tereg op aanklag van moord op die 19-jarige Adrian Oliphant. Hy pleit onskuldig omdat hy homself verdedig het toe 'n groep van agt mans, waaronder die oorledene, hom glo aangeval en hy twee keer na hulle gesteek het.
Malgas het onder kruisverhoor getuig dat hy die nagklub wou verlaat om na sy vriend, Garth, te gaan soek toe hy in die voorportaal deur die groep mans aangeval is.
"Ek kon nie verstaan waarom hulle my aangeval het nie omdat ek nie betrokke was by skermutselings vroeër die aand nie. Een van hulle het 'n glas na my gegooi wat ek met my arm gekeer het."
Hy weet nie wie dit was nie, maar het een van hulle gegryp en met sy vuis geslaan. Die staatsaanklaer, Willem Vister, het dit aan Malgas gestel dat dit die oorledene was wat die glas gegooi het.
"Ek het nie een van hulle geken nie. Ek het hulle nog nooit gesien nie," het Malgas getuig.
Volgens hom het die mans hom met twee bierbottels geslaan en die broer van die nagklubeienaar wou hom met 'n mes steek en het gedreig om hom te laat doodskiet.
"Ek moes myself verdedig en het 'n mes wat ek in my broeksak gehad het uitgehaal en twee keer gesteek," het Malgas getuig.
Vister het dit aan Malgas gestel dat hy sy weergawe van die aand se gebeure aanpas. Hy het nie in sy verklaring en ook nie in sy getuienis in die hof melding gemaak van beserings wat hy agter sy oor en aan sy arm opgedoen het nie.
Malgas het hierop geantwoord dat hy nie gedink het dit is belangrik nie. Hy het ook daarvan vergeet, het hy getuig.
Volgens Vister moes hy, na aanleiding van sy eie getuienis, ernstiger beseer gewees het toe hy deur agt mans aangeval is. "U het baie lig daarvan afgekom," het Vister aan Malgas gesê.
Die saak dien voor streeklanddros Retha Pretorius.
Klik hier vir vorige artikels:
- Moordsaak by kuierplek uitgestel
- Borgtog vir moordverdagte
- Opvolg: 18-jarige doodgesteek
- 2 mans tydens Kersfees wreed vermoor
- Twee voor Kersfees vermoor
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'