Update
KLEIN KAROO NUUS - Motoriste en vragmotorbestuurders word gemaan om tyd in te ruim om te rus, wanneer die lang pad aangedurf word. Dit was die raad van 'n senior verkeersbeampte Woensdag by 'n ongelukstoneel op die R62 tussen Oudtshoorn en Calitzdorp.
'n Verkoelingsvragmotor, met 'n vrag bederfbare produkte, het omstreeks 07:30 Woensdagoggend op 'n reguit gedeelte van die pad deur 'n veiligheidsreling gery en teen 'n wal af gery.
Die bestuurder het 'n kopbesering opgedoen. Hy het op die toneel gesê hy was moeg en het agter die stuurwiel aan die slaap geraak. Die herwinning van die vragmotor was 'n lang proses, want daar moes eers gewag word dat 'n gesondheidsinspekteur op die toneel is voordat die verkoelingshouer oopgesluit kon word.
Daarna is die vrag op 'n vragmotor, wat van Knysna ontbied is, oorgelaai waarna die insleepdiens met die herwinningsproses kon begin.
Die verkeersbeampte se raad aan motoriste is om hulle reis gereeld met kort ruspouses te onderbreek en verkieslik nie deurnag te reis nie.
Lees 'n vorige artikel: Vragmotor verlaat pad
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'