KAROO NUUS - Dit was 'n voorreg om Prins Albert en sy mense vir byna 30 jaar te dien, maar nou is dit tyd om te groet.
So sê Lydia Barrella (81) wat onlangs as bestuurder van die Fransie Pienaar-museum bedank en afgetree het.
Vir Prins Albert is Barrella se vertrek die einde van 'n era. Vir haar die begin van 'n nuwe.
"Ek is tevrede dat ek 'n goed geordende museum, wat baie besoekers lok, agterlaat. Hier het ek geskiedenis werklik leer liefkry. Terselfdertyd is ek nie spyt om weg te gaan nie. Dit is omdat ek die museum in die goeie hande van Michelle van der Gryp agterlaat, en andersins omdat – toe ek dit glad nie verwag het nie – my dogter en haar gesin uit Wallis teruggekeer het huis toe … let wel, met 'huis' bedoel ek nie net Suid-Afrika nie, maar spesifiek Prins Albert."
Dit was haar passie vir geskiedenis en bewaring wat haar altyd gedryf het om die dorpsmuseum te ontwikkel in een van die Wes-Kaap se topmuseums. In 2017 is die Fransie Pienaar aangewys as die Wes-Kaap se beste kleinmuseum.
Verlede jaar het die museum sy vyftigste verjaarsdag gevier en Barrella haar tagtigste – mylpale waaroor sy diep dankbaar is, sê sy.
Deur die jare was sy baie bewus van die rol van haar voorgangers – Fransie Pienaar, Frieda Haak en Helena Marincowitz – wat sy gerespekteer en bewonder het vir hul bewaringskundigheid.
"Vandag kan die museum daarmee spog dat ons die dorpsgeskiedenis omvattend opgeteken het en georden uitbeeld – die omgewing en sy rotskuns, ook die Swartberg en Die Hel; die plantegroei en argeologie; gedwonge verskuiwings; die argitektuur; die veranderende voorkoms van die dorp; die destydse goudvelde; ook die dorp se mense wat 'n groot bydrae gelewer het, soos Piet Basson en Pat Marincowitz en Outa Lappies. Elke aspek van Prins Albert se geskiedenis word in afdelings in die museum vasgevang. Soveel vrywillige werkers het deur die jare die museum aan die gang gehou, soveel mense het van hul besittings geskenk."
Prins Albert se inwoners, sowel as besoekers en navorsers, weet baie goed: As jy iets oor die dorp of streek wil weet, klop jy by Lydia Barrella aan.
Niemand ken die gebied beter nie: die geskiedenis van sy families, sy geboue, sy begraafplase.
Barrella kan jou verwys na ou koerante, dokumente, foto's, kunswerke, meubels, die kleinste artikels van voorgeslagte. Sy was altyd aan die stuur van museumbewus-makingsveldtogte en die werwing van finansiering deur projekte aan te pak, onder meer die gereelde witblitsstokery, die verkoop van boeke en inligtingstukke oor die gebied, uitstappies, sowel as die stigting van die Vriende van die Museum-vereniging.
"Ek het altyd groot waarde geheg aan die skep van 'n tuiste vir navorsers, en my benadering is dat as jy nie jou geskiedenis ken en bewaar nie, jy nie 'n fondament het waarop jy 'n toekoms kan bou nie. Ons dorp en streek het 'n lekker en interessante geskiedenis wat jy in die museum kan naspoor."
Natuurlik sal sy betrokke bly by haar hartswerk, sê Barrella, want die museum is in haar bloed.
Sy sal altyd beskikbaar wees vir onder-steuning en navrae. "Op 81 kan jy seker maar die leisels begin oorgee, dink ek."
Nou is dit tyd om haar dogter, Daniela, en skoonseun, Marius, en haar kleinkinders, Anna en Arlo, wat so lank in die buiteland gewoon het, te bederf en te geniet. Sy doen dit reeds met die volle oorgawe van 'n ma en ouma wat lank na hulle verlang het.
Vir meer inligting skryf aan fransiepmuseum@lantic.net of skakel 023 541 1172.
Vorige artikel: Nuwe bestuurder by fransie Pienaar-museum
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’