OUDTSHOORN NUUS - Sy is behoorlik aan die diep kant ingegooi, maar pas nadat sy vas aangestel is as bestuurder van die bekende Fransie Pienaar-museum, een van Prins Albert se belangrikste toerismebestemmings, voel Michelle van der Gryp tuis – nie net wat haar nuwe werksomgewing betref nie, maar ook in die dorp self
Dit kon ook nie anders nie: Die afgelope maande het Lydia Barrella, een van die ikone in die Wes-Kaapse museum- en bewaringsbedryf, haar touwys gemaak oor die dorps- en museumgeskiedenis.
Barrella het einde verlede jaar, op die ouderdom van 81, as museumbestuurder bedank – 'n pos wat sy sedert 1995 beklee het.
Van der Gryp se vaste aanstelling is verlede Donderdagaand op die jaarlikse algemene vergadering van die museum aangekondig.
Van der Gryp besef maar al te goed sy staan groot skoene vol, nie net van Barrella, nie maar ook van Helena Marincowitz, Frieda Haak en Fransie van Zyl wat die museum gevestig en uitgebou het tot een van die topgeskiedenis-en-bewaarplekke in die land.
Haar aanstelling as museum-bestuurder "is soos 'n klomp legkaartstukke wat in mekaar pas," sê sy.
"Prins Albert is 'n nuwe hoofstuk in my lewe. Ek weet ek moet nog my voete vind, maar ek is vasbeslote om 'n sukses te maak van my loopbaan hier. Geskiedenis en bewaring is belangrik, want dit vertel die verhale van mense en hul gebruike. In 'n museum soos dié word die streek se geskiedenis lewendig."
Sy wil graag klem lê op die Fransie Pienaar-museum as navorsingsentrum, vertel sy. "Ons het 'n uitstekende argief, en dis beskikbaar vir navorsers wat ondersoek na die verlede wil instel." Sy self is, onder meer, 'n kenner van die geskiedenis van die bekende kunstenaar Outa Lappies, oftewel Jan Schoeman, en is opgewonde oor die spesiale vertrek wat reeds vir sy kunswerke ingerig is.
Toe sy die eerste keer hier instap, was dit die reusetafel in die voorste vertrek wat haar aandag dadelik getrek het, sê sy. "Dit versinnebeeld vir my die rol wat ek graag wil hê ons museum moet speel – net soos families graag om 'n tafel bymekaarkom om tradisionele geregte saam te geniet, so is die museum die saamkomplek van die verlede en die tradisies van die omgewing. Hier versamel ons as inwoners en besoekers rondom die geskiedenis van een van die mooiste dorpe in die land."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’