OUDTSHOORN NUUS - Een van Oudtshoorn se mees veelsydigste sportmanne, Desmond Malgas (77) is Sondagaand by Mediclinic Klein-Karoo dood verklaar nadat hy vroeër die dag opgeneem is.
Volgens sy broer, Godfrey Malgas, het Desmond die betrokke dag olik gevoel waarna die familie besluit het om die ambulans te ontbied.
"Ons het die tyding 23:00 Sondagaand ontvang dat my broer gesterf het omdat sy hart klaarblyklik gaan staan het. In sy jonger dae was hy 'n veelsydige sportman wat in verskeie sportsoorte uitgeblink het. Hy was 'n familieman wat sy kinders en kleinkinders altyd aangemoedig het om deel te neem aan sport. Ons gaan hom verskriklik mis."
Desmond Malgas, elektrisiën van beroep, het in sy jonger dae die bruin SARU-rugbyspan gehaal en ook vir die plaaslike Perseverance-rugbyklub sowel as Western Hope-krieketklub uitgedraf. Hy was ook 'n uitmuntende liga-gholfspeler wat Oudtshoorn verteenwoordig het.
Malgas laat sy vrou, Helene en kinders, Joanne, Mariaan, Nola, Philida, William en Deslynn sowel as kleinkinders agter. Teen druktyd was geen begrafnisreëlings nog bekend nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'