Update
OUDTSHOORN NUUS - Danksy 'n ruim skenking van 'n vrou wat haar oor die leesnood in die Matjiesrivier-omgewing ontferm het kon 'n leessentrum vir kinders meer as verdriedubbel.
Die Klein-Karoo-leessentrum is drie jaar gelede deur die eienaars van Swartberg Country Manor, Cobus en Gerdi van den Berg, begin om kinders van Voorbedacht Primêr se leesvaardigheid te verbeter.
Die aanvanklike leessentrum is in April 2015 in die konsistorie agter 'n kerkie begin.
Die behoefte aan 'n leessentrum het só toegeneem dat die plek te klein geraak het. 'n Vriendin van die Van den Bergs, Hannelie Brand wat in Frankryk woon, het Swartberg Country Manor besoek en die behoefte aan 'n groter lokaal gesien.
Met haar bydrae kon 'n nuwe gebou opgerig word om die groot wassery langs die leessentrum te huisves. Die ou wasserygebou is opgeknap en as leessentrum ingerig.
"Hannelie het vir ons die geld gegee om 'n splinternuwe wassery te bou en daarom kan ons vanaand hierdie groter sentrum inwy. Nou kan volwassenes ook hier leer lees en ons kon 'n voltydse onderwyseres aanstel om die leesprogram aan te bied," het Cobus verlede Woensdagaand tydens die opening van die nuwe sentrum gesê,
Die oorspronklike leessentrum het tot stand gekom nadat die film, Klein-Karoo, in die valle geskiet is en mense bewus geword het van die leesnood onder die kinders.
Cobus was die vervaardiger van die film. Die film vertel die verhaal van 'n onderwyseres wat die groot behoefte van die gemeenskap raaksien en 'n skooltjie vestig.
Volgens Cobus het die film die nood van die gemeenskap in Matjiesrivier onder mense se aandag gebring en het skenkings begin inkom om die leessentrum te begin. Die huidige sentrum bevat reeds ongeveer 1 000 boeke.
Behalwe vir die bevordering van lees word daar ook beoog om die sentrum aan te wend as 'n perseel waar volwassenes vaardighede soos naaldwerk en borduurwerk kan bemeester.
Mense wat boeke vir die leessentrum wil skenk of op enige wyse wil betrokke raak kan Leoni Fourie van Swartberg Country Manor by 044 279 3188 skakel.
Lees 'n vorige artikel: Leessentrum kry nuwe woema
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'