Gallery Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Danksy ‘n ruim skenking van ‘n vrou wat haar oor die leesnood in die Matjiesrivier-omgewing ontferm het kon ‘n leessentrum vir kinders meer as verdriedubbel.
Die Word4Word leessentrum is drie jaar gelede deur die eienaars van Swartberg Country Manor begin om kinders van die omgewing bloot te stel aan boeke en hulle leesvaardigheid te verbeter.
Die behoefte aan ‘n leessentrum het só toegeneem dat die klein vertrekkie waarin dit gehuisvs was, te klein geraak het. Die nuwe leessentrum is gisteraand, Woensdag 25 April, geopen.
“Agter die leessentrum is ‘n baie groter gebou wat as die gastehuis se wassery gedien het. Ons wou graag daardie gebou as die leessentrum inrig, maar dit sou beteken dat ons 'n nuwe wassery moet bou en dit was eenvoudig te duur,” het Kobus Van den Berg, eienaar van Swartberg Country Manor, Woensdagaand gesê.
Kyk 'n video hieronder:
Hy vertel dat ‘n vriendin van hulle, Hannelie Brand wat tans in Frankryk woon, die plaas besoek het en gehoor het dat hulle die wassery se gebou in ‘n groter leessentrum wil omskep.
“Hannelie het vir ons die geld gegee om ‘n splinternuwe wassery te bou en daarom kan ons vanaand hierdie groter sentrum inwy. Nou kan volwassenes ook hier leer lees en ons kon ‘n voltydse onderwyseres aanstel om die leesprogram aan te bied,” het Van den Berg gesê.
Die oorspronklike leessentrum het ses jaar gelede gestalte aangeneem toe Van den Berg se film, Klein Karoo, in die valle geskiet is en mense bewus geword het van die leesnood onder die kinders.
Mense wat boeke vir die leessentrum wil skenk of op enige wyse wil betrokke raak kan Leoni Fourie van Swartberg Country Manor skakel by 044 279 3188.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'