OUDTSHOORN NUUS - “Dit is nie ‘n gewone werk om ‘n bewaarder te wees nie. Dis ‘n spanningsvolle werk.”
So het Ndileka Booi, Suid-Kaapse areakommissaris van die Departement Korrektiewe Dienste (DKD), tydens die jaarlikse Karoostreek Wenners-toekenningsaand van die DKD in die Oudtshoorn-burgersentrum gesê.
Die glansgeleentheid is bygewoon deur die burgemeester van Oudtshoorn, Colan Sylvester, die hoof van Korrektiewe Dienste Karoostreek, Phillip Busch en korrektiewe beamptes van Oudtshoorn, Ladismith, Beaufort-Wes en Prins Albert.
Booi het alle korrektiewe beamptes geloof vir die onbaatsugtige diens wat hulle lewer.
“Niemand word genooi om die werk te doen nie en beamptes se pogings is nie ongesiens nie. Die omgewing is vyandig daar binne,” het Booi gesê.
Volgens Booi is dit ongelukkig nie vir almal moontlik om oor die feestyd met vakansie te gaan nie. “Ons het ‘n verantwoordelikheid om oortreders hof toe te neem en ook daagliks kos te gee.”
Langdienssertifikate is by die geleentheid aan ‘n groot aantal beamptes oorhandig vir 10-, 20-, 30- en 40-jaar getroue diens asook ‘n sertifikaat van waardering aan die Oudtshoorn-munisipaliteit.
Vanjaar se onderskeie wenners is soos volg:
- Beste tak: Oudtshoorn Korreksies - Donevin le Roux
- Beste komponent: Oudtshoorn Maatskaplike ontwikkeling - Doc Skosana
- Beste eenheid: Ladismith
- Mees gedissiplineerde beampte: Yolanda November (Ladismith)
- Beste opkomende beampte: Jacomina Hendricks. (Prins Albert)
- Beste korrektiewe beampte: Lorenco Gellant. (Oudtshoorn Medium A)
- Sporttoekennings: Rudy Mortlock (gholf), R Campher (rugby), A Mazomba (sokker) en HS Mckay (hengel)
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'