OUDTSHOORN NUUS - Dieselfde groep kontrakteurs teen wie die munisipaliteit interdikte bekom het omdat hulle in Oktober die munisipale kantore beset het en op kontrakteurswerk aangedring het, het Maandag 'n vreedsame betoging voor die munisipaliteit gehou.
Peter-Lee Harmse, een van die kontrakteurs wat aan die betoging deelgeneem het en ook 'n interdik ontvang het, het die week met Oudtshoorn Courant gesels.
Volgens hom het die munisipaliteit werk aan die kontrakteurs belowe en wag hulle ongeveer ses maande al vir die werk.
"Elke keer is dit net groot, buite maatskappye wat aangestel word. Dan sê hulle vir ons dit is spesialiswerk, maar hier is ander kleiner werkies wat ons plaaslike kontrakteurs voor kwalifiseer, maar die munisipaliteit sal nie plaaslik belê en ons mense help nie."
Volgens hom was die hele ding met die interdikte ook uit verband geruk.
"Ek was nie eens by die munisipaliteit nie. Ek was by Baron's Palace in 'n vergadering met die burgemeester. Maar nou is my naam ook op die lys."
Volgens hom was Maandag se optog vreedsaam en wettig.
"Hulle het ons elke keer na mense verwys wat ons nie werklik antwoorde kan gee nie en toe besluit ons om 'n wettige optog te doen. Ons het die memorandum aan die munisipale bestuurder oorhandig en ontevrede kontrakteurs het ook die geleentheid gekry om hul ontevredenheid uit te spreek."
In die memorandum wat hulle aan die waarnemende munisipale bestuurder, Gerald de Jager, oorhandig het, het hulle gevra waarom daar soveel werk aan buitekontrakteurs gegee word. Hulle het ook gevra waarom 30% van die tenders nie aan plaaslike kontrakteurs gaan soos nasionale regering vereis nie.
Nog een van die punte wat aangeraak is, is dat die Oudtshoorn Women Economic Empowerment wil hê dat die munisipaliteit meer betrokke moet raak by die bemagtiging van plaaslike kontrakteurs.
Harmse sê hulle is tevrede met die vordering wat hulle Maandag gemaak het.
"Die munisipale bestuurder het daar gestaan en ons voor die polisie en die media belowe dat ons gaan werk kry. Dit is al wat ons wou hê."
Een van die deelnemers aan die betoging spreek die res van die groep toe met verskeie polisielede in die agtergrond. Foto: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'