Update
OUDTSHOORN NUUS - Konstruksiewerk aan die pad tussen Oudtshoorn en De Rust het Maandag tot stilstand gekom.
Volgens James Dow, projekbestuurder van NMC, het hulle besluit om werk aan die pad tydelik op te skort totdat die hof beslis of die beëindiging van NMC se kontrak deur die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke afdwingbaar is.
Die Oudtshoorn Courant het verlede week berig dat die departement van vervoer NMC kennis gegee het dat hulle kontrak beëindig word as gevolg van beweerde kontraktuele verpligtinge wat nie nagekom is nie.
NMC het verlede week te kenne gegee dat hulle met die werk voort sal gaan asof die kontrak nog in plek is.
Dow het Woensdag egter gesê NMC is nie bereid om verder op risiko te werk nie en het die werk tydelik gestaak.
Volgens hom het NMC nie vir Oktober en November betaling vanaf die Wes-Kaap se regering ontvang nie.
NMC het 'n tydelike hofbevel bekom om die beëindiging van hulle kontrak te verhoed. Die Wes-Kaapse departement van vervoer staan die hofbevel teë.
'n Voorlopige hofdatum van 15 Desember is vasgestel. Volgens Dow het hulle konstruksiewerk aan die pad tydelik tot 9 Januarie opgeskort.
Intussen het werkers wat deur 'n subkontrakteur aangestel is om die Stop-en-ry punte te beman Woensdag aan die Oudtshoorn Courant gesê hulle oorweeg om die pad toe te maak indien hulle nie salarisse ontvang nie.
Volgens 'n woordvoerder van die 58 werkers betaal NMC die subkontrakteur elke maand op die eerste dag van die maand.
"Ons ontvang dan ons salarisse op die vyfde, maar hierdie maand het ons baas gesê NMC het hom nog nie betaal nie."
Die eienaar van die maatskappy deur wie die werkers aangestel is, kon nie telefonies bereik word nie, maar volgens die werkers sou hy Woensdag samesprekings met die departement van vervoer hou om te verseker dat die werkers betaal word.
Wat hierdie kwessie aanbetref het Dow die versekering gegee dat die mense wat die verkeer beheer wel betaal sal word.
"Dit is vir NMC belangrik dat die pad in die eerste plek veilig beman word en in die tweede plek dat plaaslike mense met afhanklikes betaal word."
Wat ook al die uitkoms van hofsake gaan wees, die skrif is aan die muur dat die konstruksiewerk aan dié besige roete veel langer gaan duur as die aanvanklike beplanning waarvolgens dit vroeg in 2019 afgehandel sou wees.
Lees 'n verwante artikel: Kontrakteur kry trekpas
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'