OUDTSHOORN NUUS - Die roekelose gedrag van motorbestuurders het inwoners Saterdagaand weereens geskok en woedend gelaat na 'n botsing in die dorp waarby spoed betrokke was.
Die botsing het omstreeks 22:00 in Voortrekkerweg reg voor die Total-motorhawe plaasgevind. Twee geparkeerde voertuie is deur 'n wit VW Polo getref waarna die Polo in die middel van die pad op sy dak te lande gekom het.
Volgens die eienaar van die bakkie was hy in die bakkie met sy twee jong kinders agterin. Hulle het vir sy vrou gewag wat in die winkel was. Hy het motors gehoor en in sy truspieëltjie gesien hoe twee motors langs mekaar jaag. "Die volgende oomblik het die Polo my bakkie getref en toe die Uno voor my. Ek het my kinders hoor gil."
Die eienaar van die Fiat Uno, wat voor die bakkie geparkeer was, en haar seun was gelukkig in die winkel toe die Polo hulle kar getref het. Die Polo het na die slag op sy dak te lande gekom. Met die aankoms van Oudtshoorn Courant op die toneel was die bestuurder van die Polo reeds in 'n ambulans en hy is kort daarna hospitaal toe geneem.
Volgens ooggetuies op die toneel het die Polo en 'n silwerkleurige Honda Ballade langs mekaar in die pad opgejaag. Die Honda het nie stilgehou nie, maar is glo deur 'n verkeersvoertuig agternagesit en na die toneel teruggebring. Sover vasgestel kon word het die Honda nie 'n Oudtshoorn-registrasienommer gehad nie.
In reaksie op 'n navraag het sers. Gretchen Michaels, kommunikasiebeampte van Oudtshoorn-polisie gesê 'n klag van roekelose en nalatige bestuur word ondersoek.
"Na bewering het die bestuurder van die wit Polo met 'n spoed in Voortrekkerweg gery, beheer oor sy voertuig verloor en met die twee voertuie wat geparkeer was, gebots. Die wit Polo het gerol, die bestuurder is ernstig beseer en met nooddienste na die hospitaal geneem," het sy gesê.
Die aard van die bestuurder se beserings kon nie bevestig word nie, maar volgens inligting blyk dit dat hy nie die eienaar van die Polo was nie, maar dit glo by 'n familielid geleen het.
Die bakkie waarbinne twee kinders gesit het, is eerste deur die Polo getref. Dit is vemoedelik deur die Polo se agterkant, waarna die Polo 'n Uno wat voor die bakkie geparkeer was, getref het.
Die Fiat Uno nadat dit in 'n parkeeplek in Voortrekkerweg getref is. Foto's: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'