OUDTSHOORN NUUS - 'n Kaapse kobra van ongeveer 1,2 m het Dinsdagaand gesorg dat 'n man blitsvinnig uit sy bed gespring het.
Volgens Mornay Thysse van die Oudtshoorn-brandweer, is hy Dinsdagaand om ongeveer 21:00 na 'n huis buite Dysselsdorp ontbied waar 'n werkspan, wat aan die N12 werk, woon.
Volgens hom het een van die werkers met groot oë verduidelik dat daar 'n slang in sy bed is.
Die man het in die bed ingeklim en na 'n rukkie gevoel iets skuur teen sy lyf.
Toe hy weer iets voel het hy sy hand onder die kom-berse ingesteek en aan die slang gevat.
Hy is uit die bed en uit die kamer uit sonder om te kyk watter soort slang dit is.
Thysse het die kobra gevang waar dit steeds knus in die bed gelê het.
"Kaapse kobras is uiters giftig en die man is baie gelukkig dat die slang hom nie gepik het toe hy in die bed geklim en selfs aan die slang gevat het nie."
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'