OUDTSHOORN NUUS - Sowat 50 gaste en sakelui het Saterdagaand die Klein-Karoo Sakekamer (KKSK) se netwerkaand by Brian's Grill bygewoon. Tydens die netwerkaand het verteenwoordigers van nuwe besighede oor die kleurgrens met mekaar idees en kennis uitgeruil terwyl hulle aangesit het vir 'n heerlike ete.
Die ondervoorsitter van die Oudtshoorn-besigheidskamer, Jaco Vorster, het ook die netwerkaand bygewoon.
Deon Damons van die Wes-Kaapse department van ekonomiese ontwikkeling, was die gasspreker van die aand. Damons het tydens sy toespraak gesê dat eienaars eers hul besighede se tekortkominge moet identifiseer voordat hulle vir staatsfinansiering in aanmerking kan kom.
Volgens hom fokus die regering nou eerder daarop om gevestigde besighede te help floreer as om nuwe ondernemings van die grond af op te bou.
"Die hoofrede vir hierdie benadering is omdat die regering na die groter prentjie kyk en 'n meer indirekte aktiewe rol wil speel om vir alle mense werk te skep en te behou. Toerisme, olie- en gas, informele en landelike besighede is van die sakesektore wat voorkeur sal geniet in terme van finansiering mits hulle 'n positiewe bankstaat van hul bestaande besigheid kan toon, het hy gesê.
Hy het ook Oudtshoorn se twee sakekamers (Oudtshoorn -besigheidskamer en Klein-Karoo Sakekamer) aangemoedig om nou saam te werk in die toekoms vir die gemeenskaplike doel om die ekonomie van Oudtshoorn te versterk.
Enige entrepreneurs wat by die Klein-Karoo Sakekamer wil aansluit kan Joan Lottering by 079 662 0041 kontak.
Van links is Deon Damons (Wes-Kaapse departement van ekonomiese ontwikkeling), Justine Masiba (eienaar van Real Simzi Brands), Frederick Schroeder (voorsitter KKSK), Joan Lottering (komitee-voorsitter KKSK), Christo Nel (HeartbeatFM) en Jaco Vorster (ondervoorsitter van die Oudtshoorn-besigheidskamer.
Foto: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'