Update
OUDTSHOORN NUUS - Die bestuurder van 'n Nissan wat verlede Donderdagmiddag van agter teen 'n bakkie gebots het, is op die toneel deur 'n verkeersbeampte vir dronkbestuur gearresteer.
Kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het bevestig dat 'n klag van dronkbestuur ondersoek word.
Die bestuurder van die bakkie het op die toneel gesê sy het by die stopstraat in Buitekantstraat vir aankomende verkeer in Voortrekkerweg gewag, toe 'n motor van agter teen haar bakkie vasry.
"Die slag het my bakkie omtrent twee meter vorentoe laat skuif," het sy gesê. Sy en haar passasier is nie in die botsing beseer nie.
Nadat paramedici die bestuurder van die Nissan ondersoek het en bevestig het dat daar geen besering of mediese toestand is nie, is die provinsiale verkeersdepartement ontbied om 'n alkoholtoets te doen.
Verkeersbeamptes en lede van die SAPD by die noodvoertuig waarin die bestuurder van die Nissan sit en wag na die asemtoets.
Na verskeie pogings kon die beampte egter nie daarin slaag om die persoon hard genoeg te laat blaas vir 'n lesing nie en is daar besluit om bloed by die hospitaal te laat trek.
Lees 'n vorige artikel hier: Botsing by kruising
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'