Update Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - 'n Feesganger wat gister met sy motorfiets vanaf Oudtshoorn na Mosselbaai onderweg was, het verskeie beserings opgedoen toe hy in 'n botsing betrokke was.
Willie Proudfoot het gister per motorfiets Mosselbaai toe gery om 'n voertuig te gaan haal terwyl sy gesin besig was om hulle kampeerplek by Laerskool Laurus af te slaan. Sy rit het byna tragies geëindig toe hy ongeveer 15 km buite Oudtshoorn met motorfiets en al teen 'n steil wal af is en deur 'n heining en doringbosse geploeg het.
Volgens Proudfoot het hy om die berugte Doodsdraai gekom toe 'n motor aan die verkeerde kant van die pad reguit van voor op hom afpeil. "Al wat ek kon doen was om uit te swaai anders het ons mekaar reg van voor getref, en toe is ek teen die wal af."
Die motorfiets het in 'n doringbos bo-op Proudfoot se linkerarm en linkerbeen te lande gekom. Volgens hom het hy 'n ruk gesukkel om onder die motorfiets uit te kom aangesien sy linkerarm en been baie seer was.
Hy sê die ander motor het nie stilgehou nie. "Ek kon karre hoor verbyry, maar niemand kon my sien nie. Ek het toe probeer om teen die wal op te klim, maar my been en arm wou nie saamwerk nie."
Hy het toe sy seun gebel wat besig was om kamp af te slaan. Met die aankoms van die Oudtshoorn Courant op die toneel was 'n paramedikus besig om na hom om te sien terwyl die res van die nooddienspersoneel 'n ent verder die slot van 'n plaashek afgeknip het sodat voertuie tot by die beseerde kon kom.
Proudfoot het verskeie beserings opgedoen en albei hande se gewrigte en sy linkerarm was geswel.
Kyk 'n video hieronder:
Paramedici het op die toneel vermoed dat hy frakture aan sy arm en been opgedoen het en hom op die toneel gestabiliseer voordat hy per ambulans na die Mediclinic op Oudtshoorn geneem is.
Proudfoot se seun, ook Willie, was kort na die ongeluk ook op die toneel en het die res van die gesin en familielede in kennis gestel en 'n insleepvoertuig van Mosselbaai gereël om die wrak van die motorfiets te gaan haal.
Volgens verkeersbeamptes was daar reeds verskeie ongelukke op die spesifieke draai. Ongeveer twee jaar gelede is 'n motoris dood nadat sy voertuig ongeveer 200 m van Proudfoot se ongelukstoneel die pad verlaat en gerol het.
Nadat die beseerde se arm gespalk is, word aandag aan sy beseerde been gegee.
Die motorfiets waar dit op 'n doringbos en bo-op die beseerde motorfietsryer beland het. Foto's: Hannes Visser
Lees 'n vorige artikel: Motorfietsryer beseer
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'