Update
OUDTSHOORN NUUS - Die ouers van die plaaslike Proteas-karatekas wat van vanaf 22 Junie tot 3 Julie aan die en toernooi in Kroasië gaan meeding, het vandeesweek hul ontevredenheid uitgespreek oor die Oudtshoorn-munisipaliteit se karige bydra van R5 000 per karateka.
Dit terwyl hul uitgawes bykans R50 000 per karateka beloop.
Volgens 'n verklaring van die Oudtshoorn- munisipaliteit volg hierdie besluit na verlede week se besprekings met die raad om in oorleg met die plaaslike sportkomitee en Eden-sportraad, slegs R5 000 per kind beskikbaar te stel, mits daar bewys kan word dat die karatekas wel die reis na Kroasië sal meemaak.
"Verstaan my mooi, ons is nie ontevrede oor die munisipaliteit se druppel-in-die-emmer hulp nie, want elke bietjie help, maar as daar na die breër prentjie gekyk word, is hul bydra belaglik.
Hoe verduidelik jy dat die munisipaliteit bereid is om R30 000 per kind te gee wat provinsiale of nasionale kleure behaal, maar met die voorwaarde dat die toernooi in Oudtshoorn moet plaasvind.
"Maar as die kinders in die buiteland moet deelneem, word die bedrag na R5 000 gesny. Dis nie eers die vliegtuigkaartjies se kostes nie. As ouers van histories benadeelde gemeenskap is dit uiters teleurstellend dat die munisipaliteit nie in ons kinders wil belê nie.
"Tot dusver moet ons as ouers lenings ten duurste aangaan om te verseker dat ons vir ons kinders nie hierdie geleenthede ontneem nie, terwyl die munisipaliteit handjies gevou sit. Dis absoluut pateties," sê 'n ouer wat anoniem wil bly.
Volgens die ouers moet hulle nou rondskarrel om die res van die geld bymekaar te skraap voordat hul kinders oor twee weke vertrek.
Vorige artikel: Karatekas op pad na Kroasië
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'