Update
LADISMITH NUUS - Die verhoor teen die man wat die Kannaland-munisipale raad se speaker, Aletta Theron, met water in die raadsaal gegooi het, Nicolaas May, is geskeduleer vir Donderdag 15 Maart.
May het gedurende die raadsvergadering van 7 November vanuit die publieke area vorentoe gestap, op die speaker begin vloek, geskree, haar verbaal gedreig en haar met water gegooi.
Hy het haar daarvan beskuldig dat sy glo iemand R15 000 betaal het om hom te laat doodmaak.
"Die Ladismith-polisie moes ingryp om orde in die raadsaal te herstel," het Ian Avontuur, burgemeester Magdalena Barry se woordvoerder na die voorval gesê.
Die vergadering is ongeveer 'n uur later voortgesit. "Hierdie is die tweede voorval van geweld teenoor die DA-speaker van Kannaland.
"Sy het op 28 Februarie 'n ribbesering opgedoen toe sy tydens 'n raadsvergadering geskop is."
Kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het Donderdag bevestig dat die Ladismith-polisie 'n klag van aanranding gewoon ondersoek.
Avontuur wou nie kommentaar lewer op die aanvaller se beskuldiging teenoor Theron, dat sy R15 000 betaal het om hom te laat doodmaak nie.
Lees 'n vorige artikel: Vonke en water spat met raadsvergadering
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'