Video
LADISMITH NUUS EN VIDEO - Die Ladismith-polisie moes Dinsdag ingryp toe 'n munisipale raadsvergadering wéér deur geweld ontwrig is.
Die speaker, Aletta Theron, het met die aanvang van Dinsdag 7 November se vergadering onder die woede van 'n lid van die publiek deurgeloop.
Arrie May, het op die speaker begin vloek en skreeu, haar verbaal gedreig en haar met water gegooi.
Hy het haar gedreig en beskuldig dat sy glo iemand R15 000 betaal het om hom te laat doodmaak.
Die polisie het die man uit die raadsaal verwyder, terwyl Theron en die munisipale bestuurder, Reynold Stevens, droë klere moes gaan aantrek.
Die vergadering is ongeveer 'n uur later voortgesit. Hierdie is die tweede voorval van geweld teenoor die DA-speaker van Kannaland.
Theron het op 28 Februarie 'n ribbesering opgedoen toe sy tydens 'n raadsvergadering geskop is.
Met dié aanval wat nog deur die polisie ondersoek word, het Theron na Dinsdag se water- en verbale aanval nóg 'n klag aanhangig gemaak.
Kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het Donderdag bevestig dat die Ladismith-polisie 'n klag van aanranding gewoon ondersoek.
Ian Avontuur, burgemeester Magdalena Barry se woordvoerder, wou nie kommentaar lewer op die aanvaller se beskuldiging teenoor Theron, dat sy R15 000 betaal het om May te laat skiet nie.
Kyk 'n video:
Die aanval volg twee weke na die polisie se spesiale ondersoekeenheid, die Valke, op die munisipaliteit toegeslaan het en op rekenaars en dokumentasie beslag gelê het.
Die Valke se woordvoerder, kapt. Lloyd Ramovha, wou nie uitbrei oor die beslaglegging nie, maar het wel bevestig dat dit deel uitmaak van 'n bedrogondersoek.
Die Kannaland-raad wankel met 'n hangraad, bestaande uit twee DA-lede, twee ANC-lede en drie Icosa-lede.
Teen die DA en ANC se beginsels het hulle agter geslote deure besluit om saam te staan en die Icosa meerderheid te onderdruk.
'n Koalisie word deur hulle ontken, maar na die 3 Augustus 2016 munisipale verkiesings het hulle eenparig hande opgesteek om Barry (ANC) in te stem as die burgemeester en Theron (DA) as speaker.
Met die stem is die jare lange Icosa-regeerder as burgemeester uitgestem en moes hy 'n deeltydse stoel inneem.
Hierdie stap het gemoedere in Kannaland laat opvlam. Icosa loop deur onder beskuldigings dat hulle verantwoordelik is vir die raadsvergadering ontwrigtings en aanvalle op Theron, terwyl Donson se kamerade die DA/ANC sameswering van wanbestuur beskuldig.
Jaco Londt, die Wes-Kaapse DA-Oosstreekbestuurder het na Dinsdag se aanval in 'n Engelse persverklaring die blaam vir die aanvalle op Theron, vierkantig op Icosa se skouers geplaas.
"The DA is appalled by the continuous intimidation by the Independent Civic Organisation of South Africa (ICOSA) in Kannaland that was again displayed yesterday where one of the party's members violently interrupted a council meeting, hurled insults at the Speaker and proceeded to throw a jug full of water at her."
Bradley Benades, Icosa se nasionale organiseerder, het enige verbintenis met May ten sterkste ontken.
"Hy is nié 'n lid van Icosa nie. Hy het bande met Theron en haar kamerade. Dinge het skeefgeloop tussen hulle en die aanval het gevolg."
Volgens Benades was May op pad na die raadsvergadering en is toevallig saam met Icosa-lede gesien loop.
"Die feit dat hy saam met hulle geloop het was blote toeval. Dit verbind hom nie met Icosa nie."
Avontuur het dié beweringe as bog afgemaak. Londt het gesê, "Ek volstaan by my verklaring. May is 'n lid van Icosa."
ARTIKEL, VIDEO & FOTO'S: CHRISTO VERMAAK & LIEZL VAN NIEKERK | OUDTSHOORN COURANT-JOERNALISTE
'Ons bring jou die nuutste Ladysmith, Karoo nuus'