KANNALAND NUUS - Kannaland se nuutverkose burgemeester, Nicky Valentyn (ANC), het Maandag kennis van sy party ontvang dat hy tot verdere kennisgewing geskors is.
Dieselfde lot geld vir sy mede ANC-raadslid, Leonie Stuurman, wat ook saam met Valentyn verlede week as Kannaland se nuwe onderburgemeester verkies is.
Die DA se Aletta Steenkamp is by dieselfde raadsitting as Kannaland-munisipaliteit se verteenwoordiger by die Garde Route-distriksmunisipaliteit verkies met Rodge Albertus (KIP) as die nuwe speaker.
Hierdie verwikkelinge het gevolg na onder andere 'n suksesvolle mosie van wantroue teen die burgemeester Jeffrey Donson (Icosa), nadat dit aan die lig gekom het dat hy in 2008 aan statutêre verkragting van 'n 15-jarige meisie skuldig bevind is.
Luidens die skorsingsbriewe van die ANC wat aan Valentyn en Stuurman gerig is, word dié twee effektief onmiddellik geskors omdat hulle 'n besluit van die provinsiale en nasionale komitees van die ANC geïgnoreer het om nie 'n koalisie met die DA te vorm nie.
Valentyn en Stuurman is volgens die skorsingsbriewe daarop gewys dat daar geen onduidelikhede in die grondwet van die party bestaan rondom die besluit om nie 'n koalisie met die DA te vorm nie. Die ANC stel dit ook duidelik dat Valentyn en Stuurman se optrede strydig is met die eed wat lede van die ANC aflê.
Dit sluit in die verontagsaming van ANC-beleide of enige regulasie wat deur die party aanvaar is, sowel as die ondersteuning van 'n politieke organisasie of party, anders as dié waarmee die ANC in alliansie is.
Volgens die skorsingsbriewe mag Valentyn en Stuurman die ANC in geen hoedanigheid verteenwoordig totdat die ondersoek afgehandel is nie. Op 'n navraag het Valentyn gesê dat hy wagtend is op 'n interim provinsiale komiteelid (IPC) van die ANC om hy en Stuurman se redes vir hul besluite aan te hoor.
Stuurman kon nie by haar woning of munisipalekantoor vir kommentaar opgespoor word nie. Intussen gons dit in Kannaland oor die pad in die raadsaal vorentoe.
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'