Update
OUDTSHOORN NUUS - Die SWD-kanarie- en kouvoëlklub het verlede naweek sy 21ste skou en negende provinsiale skou in die saal van die Welgeluk NG Kerk gehou.
Kanarietelers van heinde en ver het volgens die voorsitter, Bennie Kleynhans, vanjaar altesaam 659 kanaries vir die skou ingeskryf en was dit weer geen maklike taak vir die beoordelaars om wenners aan te wys nie.
Oudtshoorn se kanarietelers, het weer uitgeblink en van die toppryse opgeraap.
Sydney Jonck het weer die afdeling vir Red Factors oorheers, Bennie Greyling die afdeling vir Parisian Frills en Edwin Gelderbloem die nuwe kleure.
Jonck het die eerste pryse gewen as die beste Red Factor-teler op die skou asook beste jong Red Factor-teler.
Gelderbloem het die eerste, derde en sewende plekke ingepalm vir die beste nuwe kleur kanaries op skou. Hy het ook die prys vir die beste nuwe kleur jongvoel gewen.
Kleynhans was die wenner in die afdeling vir Parisian Frills asook 'n prys vir naaswenner en beste jong Parisian Frill op skou.
Nog 'n Oudtshoorniet, Cornelius Oliphant, het twee tweede prys verower.
Riyaad Petersen van Kaapstad is as die wenner van die German Roler-kampioen gekroon.
Volgens Kleynhans was die totale pryse vanjaar R10 400 met R500 vir elke wenner.
Die SWD-kanarie en kouvoëlklub is 21 jaar gelede deur 'n inwoner van George, Kotie Cronjé, gestig met drie of vier lede.
Die klub is oop vir enige kanarie- en kouvoelliefhebber in die Suid-Kaap. Belangstellendes kan Kleynhans by 044 272 6058 skakel.
Lees 'n vorige artikel: Kanarietelers skou in Oudtshoorn
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'