Update
OUDTSHOORN NUUS - Daar is nog geen verandering aan die Oudtshoorn-raad nadat lede van Sarco (South African Religious Civic Organisation) verlede week aangekondig het dat hulle Gavin Juthe, Oudtshoorn se onderburgemeester, uit die party geskors het nie.
Die waarnemende munisipale bestuurder, Reginald Smit, het Dinsdag by monde van die munisipale woordvoerder, Ntobeko Mangqwengqwe, gesê hy het nog geen amptelike kennis ontvang dat Juthe nie meer 'n Sarco-lid is nie. Dit beteken dat Juthe se pos as onderburgemeester tans onveranderd bly.
Abraham Tiemie, sekretaris-generaal van Sarco se nasionale uitvoerende komitee, en nog 'n lid van Sarco wat van George afkomstig is, het verlede week verskeie boodskappe aan die media gestuur om Juthe se skorsing bekend te maak.
Die skorsing is Vrydag tydens 'n mondelinge sessie aan sommige lede van die media oorgedra. Tiemie het egter nie gereageer op 'n versoek van Oudtshoorn Courant om 'n skriftelike verklaring ten opsigte van die skorsing te stuur nie.
Volgens 'n brief wat Tiemie op 7 April aan Juthe gestuur het, is Juthe in sy afwesigheid op 6 April skuldig bevind aan drie klagtes waarvolgens hy na bewering die party se gedragskode oortree het. Dit blyk dat Juthe nie gereageer het op opdragte om voor Sarco se uitvoerende raad te verskyn nie en ook nie vir die tugverhoor beskikbaar was nie.
In antwoord op 'n vraag hieroor het Juthe aan Oudtshoorn Courant gesê die lede wat hom aangekla en verhoor het, het geen locus standi nie, aangesien hulle volgens hom nie meer Sarco-lede is nie en ook ander partye tydens die verkiesing gehelp het. Hy het reeds in sy hoedanigheid as federale-lid van Sarco op 12 Maart 'n brief aan Tiemie gestuur waarin hy hom verwittig dat hy (Tiemie) se lidmaatskap van Sarco volgens bepalings van die party se grondwet, beëindig is.
Juthe het ook in reaksie op 'n navraag gesê dat Sarco se grondwet dit baie duidelik stel dat geen lid van Sarco by 'n ander party mag aansluit of dit ondersteun nie. Volgens hom was twee van die lede wat hom verhoor het, Abraham Tiemie en Martin Bentley, tydens verlede jaar se tussenverkiesing aktief by onderskeidelik die ANC en Good se stemwerwing betrokke. Hy beweer ook dat Tiemie, Bentely en Jurie Harmse hulle lidmaatskap aan Sarco verbeur het aangesien hulle nie opbetaalde lede van die party is nie.
Tiemie het telefonies gesê hy verwerp Juthe se argumente aangesien nie een van hulle by ander partye aangesluit het nie, en dat hulle nie verhinder kan word om ander partye in belang van die gemeenskap te help as Sarco nie 'n kandidaat in 'n betrokke wyk het nie. Hy het ook gesê die argument oor ledegelde is irrelevant aangesien daar glo in 2016 reeds besluit is dat Sarco-lede as gevolg van ekonomiese omstandighede nie jaarlikse ledegeld hoef te betaal nie.
Volgens Tiemie het hulle reeds die OVK (onafhanklike verkiesingskommissie) van die skorsing in kennis gestel. Juthe het op sy beurt gesê dat hy ook dokumentasie aan die OVK gestuur het om aan te dui dat die poging om hom te skors nie legitiem is nie. Hy het gesê hy steur hom nie verder aan pogings om hom uit die stoel te lig nie, aangesien daar volgens hom persoonlike agendas van mense betrokke is.
Die raadsetels in Oudtshoorn sien tans as volg daar uit:
ANC 9 , Icosa 2, EFF 1, Sarco 1 en DA 12.
Sarco en Icosa het hulle verlede jaar na die tussenverkiesing by die DA geskaar sonder om enige koalisie te sluit. Sou Sarco daarin slaag om Juthe te onttroon kan dit beteken dat die magsbalans na die ANC toe kan neig indien dit so is dat daar agter die skerms gewerk word aan 'n ooreenkoms tussen die ANC, Sarco, Icosa en die EFF.
Vorige artikel: Onderburgemeester lag "skorsking" af
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'