OUDTSHOORN NUUS - Gavin Juthe, Oudtshoorn se onderburgemeester het vanoggend gesê stappe wat lede van sy party, SARCO, neem om hom uit die party te skors is onregmatig en dat hy hulle pogings reeds onder die OVK (onafhanklike verkiesingskommissie) se aandag gebring het.
“Ek het alle korrespondensie van die sogenaamde NEC-lede reeds aan die OVK gestuur."
Volgens Juthe het lede van die party wat na hulself as die nasionale uitvoerende komitee verwys nie die ligitimiteit om ‘n tugverhoor teen hom te hou of hom te skors nie aangesien hulle nie opbetaalde lede van die party is nie. Verder is die Federale uitvoerende komitee die hoogste gesag in die party en nie die sekretaris generaal van die nasionele uitvoerende komitee soos wat aangevoer word nie.
Die Oudtshoorn Courant het gister die klagstaat ontvang waarvolgens Juthe in sy afwesigheid skuldig bevind is omdat hy glo reëls van die party verbreek het en ook geweier het om voor die nasionale uitvoerende komitee te verskyn.
Die aankondiging dat Juthe geskors is, is vanmiddag tydens ‘n mediakonferensie deur Abraham Tiemie, sekretaris-generaal van die party bekendgemaak.
Die Oudtshoorn Courant het om 13:00 vir die vergadering opgedaag soos wat die kennisgewing gelui het, maar dit is uitgestel.
Die inhoud van die mediaverklaring is nog nie vanmiddag aan die Oudtshoorn Courant gestuur nie en by navraag het Tiemie gesê die verklaring is mondelings aan die media oorgedra.
In ‘n reaksie op ‘n navraag oor die kwessie wat Juthe gister aan die koerant gestuur het, het hy gesê hy beskou dit in ‘n ernstige lig dat dieselfde mense wat nou as SARCO-lede teen hom optree in verlede jaar se tussenverkiesing names GOOD en die ANC werwing gedoen het en volgens hulle eie grondwet nie meer lede van die party is nie.
Volgens hom is hulle ledegeld vir die party in 2016 laas betaal. Hy het afskrifte van drie briewe aan die Oudtshoorn Courant gestuur wat deur sy regsverteenwoordiger, Johan Wagener, aan onderskeidelik Abraham Tiemie, Jurie Harmse en Martin Bentley gestuur is om hulle in kennis te stel dat hulle nie lede van SARCO is nie.
Twee lede van SARCO se federale uitvoerende raad, Elaine September en Valencia Buys het vanoggend Juthe se reaksie ondersteun. Volgens hulle is hierdie ‘n poging van sommige SARCO-lede om hulle by die ANC te skaar.
Volgens Abraham Tiemie, wat briewe aan Juthe as die Sekretaris Generaal van SARCO onderteken het, is Juthe se argument oor ledegeld nie relevant nie aangesien daar glo reeds in 2016 ‘n besluit geneem is dat lede geen ledegelde sal betaal nie.
Tiemie het ook gesê dat hy tydens verlede jaar se tussenverkiesing namens sy gemeenskap opgetree het omdat SARCO nie ‘n kandidaat in daardie wyk gehad het nie, en dat hy geen lidmaatskap van ‘n ander party aanvaar het nie.
Hy het vandag gesê dat SARCO die OVK Maandag sal inlig oor die skorsing van Juthe en dat hulle reeds die munisipale Bestuurder in kennis gestel het van die skorsing. Dit blyk egter dat die huidige samestelling van die raad eers verander kan word as die OVK amptelik aankondig dat Juthe nie meer ‘n raadslid kan wees nie.
Juthe het vanmiddag gesê hy slaan geen ag op enige besluite wat geneem word nie en dat die lede wat hom probeer skors dit maar in die hof kan gaan probeer deurvoer. “Ek steur my nie aan hulle besluite nie, hulle weet presies wat die grondwet bepaal, hulle moet maar hof toe gaan as hulle wil.”
Die raadstels in Oudtshoorn sien tans as volg daar uit:
ANC 9 , Icosa 2, EFF 1, Sarco 1 en DA 12. SARCO en Icosa het hulle verlede jaar na die tussenverkiesing by die DA geskaar sonder om enige koalisie te sluit. Sou SARCO daarin slaag om Juthe te onttroon kan dit beteken dat die magsbalans na die ANC toe kan neig indien dit so is dat daar agter die skerms gewerk word aan ‘n ooreenkoms tussen die ANC, SARCO, ICOSA en die EFF.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'