LADISMITH NUUS - Tragedie het Charlene Africa vir die tweede keer vanjaar getref nadat haar oudste seun, Jaylin Britz, die afgelope naweek in Ladismith vermoor is.
Haar 16-jarige seun, Juan-Pierre Saptou, is in Junie vanjaar deur die polisie met 'n traangasgranaat in die gesig geskiet.
"My hart is in stukke. Dit voel of hy enige oomblik deur die deur moet stap en net sê hallo mamma, maar ek weet dit gaan nie gebeur nie," het Africa aan die Oudtshoorn Courant vertel.
Britz (22) het die afgelope drie maande in Ladismith gewoon nadat hy daar gaan werk soek het.
"Ek weet hy was nie altyd besig met die regte goed in Ladismith nie, maar hy wou graag 'n inkomste gaan verdien omdat ek en my man werkloos is. Hy het ook 'n vierjarige dogtertjie waarna hy moet omsien.
"Ek praat glad nie wat my kind gedoen het goed nie, maar mens maak nie 'n verkeerd met 'n verkeerd reg nie. Hy het nie verdien om vermoor te word nie."
Britz is Saterdagaand, met 'n mes in sy rug gesteek, nadat hy saam met sy vriende van Oudtshoorn gaan kuier het.
Die wyle Jaylin Britz.
Cecil en Angelo Manuel, twee broers wat vir jare met Britz bevriend was, sê hulle wou die naweek vir hom gaan kuier omdat hulle hom lanklaas gesien het.
"Ons het Saterdag bietjie rugby gekyk waarna ons gebraai het. Ons het toe iets by 'n kuierplek gaan drink," vertel Cecil.
Volgens hom het hulle later die aand na 'n dans in Ladismith gegaan waar Britz in 'n stryery met iemand anders betrokke geraak het.
"Dit het op daardie stadium nie so erg gelyk nie, want die bakleiery het opgehou. Die mense het egter buite die dansplek vir ons staan en wag."
Volgens hom het 'n man aggressief begin raak en hulle met 'n kapmes gedreig.
"Dit het op daardie stadium nie regtig gelyk of hy iemand gaan seermaak nie. Ek het mooi met die man gepraat en vir hom gesê hy moet die storie los, want daar kan niks goed van kom nie.
"Toe ek my rug op hom draai om met Jaylin te praat toe kap die man my van agter af met die kapmes. Ek het my bewussyn eers weer in die hospitaal teruggekry. Hy het my ook oor my ribbes en in my bo-been geslaan."
Angelo sê hy het vir Cecil probeer beskerm.
"Ek het bo-oor hom gaan lê en vir die man gesê hy moet ophou hy het my broer nou klaar seergemaak, maar hy het my toe ook getrap en geslaan. Die ander het in die kar gespring en huis toe gegaan en ek het die ambulans gebel en by my broer gebly.
"Een van die vriende wat saam met Jaylin huis toe is het ons vertel dat die span wat ons by die klub aangerand het agter hulle aan is huis toe."
Volgens hom het daar by die huis waar Britz in Ladismith gewoon het, 'n klipgooiery ontstaan.
"Die groep mense wat met Jaylin-hulle baklei het, het net groter geword. Die hele gemeenskap was omtrent daar. Iemand het die polisie gebel en met hul aankoms het Jaylin uit die erf uit gestap omdat hy gedink het dit is nou verby.
'n Groot groen voertuig het egter glo reg op hom afgery, maar hy kon daarin slaag om pad te gee voor hy raakgery is. Toe hy omdraai om in die erf in te stap het die man hom van agteraf in die rug gesteek. Hy kon dit net-net maak tot in die huis voor hy gesterf het."
Britz is deur vriende en familie as 'n liefdevolle, sprankelende mens beskryf.
"Die hele gemeenskap het van hom gehou. Hy het vinnig vriende gemaak en het altyd gesing. Hy was lief vir grappe maak en sou altyd vir sy vriende en familie opstaan."
Hy word Saterdag 11:00 vanuit die Grace International Church begrawe. Daar sal om 10:00 by ma se huis in 16de Laan gehou word.
Kaptein Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het bevestig dat 'n klag van moord ondersoek word. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Lees 'n vorige artikel: Seun tuis na skietvoorval
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'