Update
OUDTSHOORN NUUS - Hy is op 'n ongelooflike wrede manier onnodig van ons af weggeneem.
So sê Jonathan Moos, pa van John-Lee Johnson (23), wat verlede Saterdag met 'n mes in Dassieweg doodgesteek is.
Volgens Johnson se ma, Ingrid, was daar glo Saterdag naby hulle huis in Dassieweg 'n geveg tussen 'n klomp mans.
"Daar was glo 'n ander jong man wat aangerand is en daar was mense wat gedink het my kind is betrokke.
John-Lee het nog na die mense toe gegaan en gesê dat hy nie betrokke was nie, maar hulle het hom nie geglo nie."
Volgens Ingrid was haar seun bang.
"Hy wou die saak by Bongolethu-polisiestasie gaan aanmeld en vir hulle sê dat daar mense is wat hom dreig, maar die hekke was gesluit en niemand het oopgemaak nie. Hy wou die res van die dag nie by uit die huis gaan nie."
Volgens haar is John-Lee en sy suster se dogtertjie, Haydene Johnson (5), later kafee toe en het die vermeende moordenaar hom by die kafee, naby hulle huis gesteek.
"Hy het met die kleintjie huis toe gekom. Sy was ook vol bloed. Hy het op die sitkamer se vloer inmekaargesak en gesê dat hy gesteek is. Hy is kort daarna dood."
Volgens sers. Gretchen Micheals, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, is 'n 20-jarige man in verband met die moord in hegtenis geneem.
Teen druktyd was begrafnis-reëlings nog nie gefinaliseer nie.
VORIGE ARTIKEL: Jong man met mes vermoor
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'